Die Tuinroete het van die mooiste strande in ons land. Van hierdie strande is sanderig en ander is rotsagtig. Baie van ons gaan hierdie somer tyd bestee op die strand en omdat dit ook ’n unieke voëlhabitat is, bied dit ’n kans om ’n paar baie interessante voëlspesies waar te neem. Die meeste van die spesies is spesifiek aangepas om in die strandhabitat te oorleef. In so ’n oop habitat is kamoeflering van groot belang en daarom is strandvoëls meestal nie helder van kleur nie. Sekere spesies het lang bekke om wurms en sandgarnale diep uit die nat seesand uit te haal; ander het weer kort bekkies om die sandvlooie mee op te pik.
Sandstrande is op die oog af kaal en leweloos, soos ’n woestyn langs die see. Tog is die see ’n reusebron van kos en baie van hierdie kos spoel op die strande uit: meestal dooie visse en ander dooie waterdiere soos jellievisse, maar ook kelp en ander seewiere. Daar is ook allerhande klein goggatjies (soos die sandvlooie) wat die seewiere vreet; hulle is weer ’n bron van kos vir strandvoëls soos die vaalstrandkiewiet en die drietoonstrandloper. Op die strand kry ’n mens ook die “aasvoëls” van die see, die seemeeus soos die kelpmeeu en die gryskopmeeu, wat die dooie seediere vreet wat uitspoel.
Rotsagtige strande bied weer ’n ander tipe bron van kos. In en om die rotspoele is daar ’n groot verskeidenheid seelewe, insluitend weekdiere, soos oesters en mossels, maar ook klein vissies. Die kleiner weekdiere en ander klein ongewerwelde diertjies word deur die steenloper gevreet, wat met sy kort, sterk nek kleiner klippe omkeer om die diertjies wat daaronder wegkruip te vang. Die swarttobie het ’n besondere sterk bek wat hy gebruik om mossels mee oop te breek. Die rotspoele lok ook die bontvisvanger. Hy is goed aangepas om in rotspoele vis te vang, want hy het die vermoë om in die lug te kan hang, ’n tegniek waaroor ander visvangerspesies nie beskik nie.