14.2 C
Mossel Bay
11th Aug 2022
BirdingCommunity & LivingNature & NurtureTourism & Travel

VOËLS VAN EENDERSE NAME, MAAR NIE VERE NIE!

Die Tuinroete is die tuiste van drie verskillende loeries: die bekende Knysnaloerie, die vleiloerie met sy kenmerkende roep en die gesogte bosloerie. Al deel hulle die naam “loerie”, is hierdie drie voëls glad nie aan mekaar verwant nie.

Die Knysnaloerie (Knysna turaco) is die grootste van die drie. Hy is groen, met ’n lang kuif, opvallende rooi vlerkvere (net sigbaar wanneer hy vlieg) en ’n baie kras roep. Hierdie loeries beweeg rond in klein of groot groepe – ek het al meer as 20 in ’n groep teengekom – en spring rond van tak tot tak soos eekhorings. Voëls het uitstekende kleurvisie en die rooi vlerkvere maak dit waarskynlik makliker om mekaar te volg terwyl hulle in ’n groep deur die woud beweeg.

Die vleiloerie (Burchell’s coucal) is die tweede grootste met die minste kleure. Tog spog hy met die mooiste rooibruin vlerke en bloedrooi oë wat uitstaan teen sy donker kop. Sy roep is welbekend en is skynbaar ’n teken van swaar reën wat op pad is. Interessant genoeg trek sy roep verder wanneer die lugdruk laer is, wat verklaar hoekom hy geneig is om te roep net voor dit begin reën. ’n Vleiloerie is ’n baie skaam voël wat gewoonlik alleen in digte plantegroei rondbeweeg op soek na iets lewendig om te eet.

Die bosloerie (Narina trogon) is die kleinste van die drie en dalk ook die mooiste! Sy roep klink amper soos dié van ’n duif. Met sy rooi borsvere is die bosloeriemannetjie helder van voor, maar goed gekamoefleerd van agter. As hy jou sien aankom, draai hy sy rug op jou sodat sy helder bors nie sigbaar is nie. Tydens hofmakery (in Oktober en November) kan daar tot vyf mannetjies in een boom sit en roep!

Related posts

THERE’S BEAUTY IN A COAST OF SKELETONS

Mariëlle Renssen

Attitude determines future

Scott Thomson

A SOUTH AFRICAN WORLD RECORD HOLDER

Colin Ralston

SAVE OUR OCEANS!

Janine Pereira

PETROVNA METELERKAMP KOM GESELS MET GROOT BRAK LEESKRING

Laurinda Smit

WHAT’S ON THE MENU?

Sally Adam