Tradisionele kos word gemaak uit dít wat in jou tuin staan of op jou werf rondloop, wat in jou omgewing is of wat in jou waters rondswem. Tradisionele kos is dikwels streekgebonde, daarom is daar mieliebrood in die Vrystaat en mosbeskuit in die Boland. Daar is kreef by die see en vleispotjie in Namibië en gebakte vis al langs die kus. Tradisionele kos kan ook weens ’n volk se geskiedenis bewaar bly. So maak ons potjiekos soos ons voorvaders van die trekpad en is ons lief vir ’n stukkie wild – nóg ’n oorblyfsel van die pioniersjare.
ONS IS NIE AGTER DIE KLIP NIE
Ons Afrikaners is ondernemende eters. Terwyl die Franse net Franse kos eet en die Italianers net Italiaanse kos (behalwe MacDonald’s), sal ons reg rondom die aardbol eet vanaf Japan tot in Mexiko, al laat dit vir ouma in haar melktert stik. Maar as ’n mens die laaste stuk rou tuna afgesluk en die laaste boudjie skerp rissie-hoender verby jou stembande geskroei het, raak jy weer lus vir ’n skaappotjie met uie, aartappels en wortels, vir groenmielies oor die kole en koeksisters bros van buite en sondig soet van binne.
So sal jy op die lughawe staan en ’n WhatsApp huis toe stuur: LUS VI BNKIBREDI, en jou mense sal dit vir jou maak: groenboontjies, blink van die vet, met skaapnek en blusaartappels en ’n stukkie varkribbetjie daarby.
Dit is nie net die oumense wat tradisionele kos eet nie. Jongmense raak stil as hulle skaapboud proe wat in die swartpot gaargemaak is. Hulle pink ’n traan weg oor pampoentert, hulle proe versigtige lepeltjies sagopoeding en gaan skep later weer. Die vietsste lyfie sal vyf brosgebraaide aartappels verorber, die vitterigste eter sal weglê aan mieliepap met wors en sous.
My vriende weet ek hou nie van kos met pretensies nie. Ons eet gedurig bymekaar en ons eet goedkoper en lekkerder as in die restaurante, want ons eet die kos van ons omgewing en van ons herkoms. Dus: tradisionele kos. Hier volg een van my gunstelinge.
SMAAKLIKE BOONTJIEBREDIE
4-6 porsies
1,5 kg stowelamsvleis
30 ml kookolie
1 groot ui
4 knoffelhuisies, fyngestamp
5 ml vars gemmer, gestamp
5 kruinaeltjies
125 ml (½ k) louwarm water
5 ml (1 t) sout
2,5 ml (½ t) varsgemaalde swartpeper
2 mediumgrootte aartappels, geskil en in blokkies gesny
2 mediumgrootte aartappels, geskil en in kwarte gesny
1 kg groenboontjies, in 3 cm-lengtes gesny
’n goeie raspertjie neutmuskaat
Sny die lamsvleis in klein porsies, klad dit droog op kombuispapier en braai dit in die kookolie in ’n wye, diep kastrol. Braai bietjie vir bietjie sodat dit nie water trek nie. Skep die vleis uit in ’n skottel en hou eenkant.
Kap die ui fyn en smoor dit saam met die knoffel en vars gemmer in die kastrol. Skep die vleis terug in die kastrol, voeg die kruinaeltjies by, sit die deksel op en stowe stadig vir ongeveer ’n halfuur. Dit kan sonder water gedoen word, maar afhangende van die soort kastrol wat jy gebruik, kan jy louwarm water so bietjie-bietjie byvoeg.
As die vleis begin sag word, strooi die sout en peper oor. Strooi nou die aartappelblokkies en -kwarte oor die vleis, gevolg deur die boontjies. Die aartappels word in klein en groter blokke gesny omdat die kleiner blokkies gouer gaar word en die bredie verdik.
Maak seker dat daar ongeveer ’n halwe koppie vloeistof in die kastrol is – so nie,voeg by.
Sit die deksel op en stowe vir ongeveer ’n uur; proe of daar nou genoeg sout in is. As die bredie te waterig is, kook dit vinnig.
Rasper neutmuskaat oor en “trek die bredie deur” (kyk hieronder). Sit voor met witrys en gerasperde komkommerslaai.
Trek die bredie deur: Jy druk jou lang lepel of vurk diep in die pot en trek van die bestanddele wat onderin in lê versigtig na bo. Moenie dit deurmekaar karring dat dit ’n papperasie in jou pot maak nie. Net so effentjies, net so liggies.
Naskrif: ’n Mens kook maar met wat jy het. So word daar soms ’n stukkie rib bygevoeg, ander kere weer ’n skenkel. Soms vat jy ’n bietjie koljander, soms ’n bietjie neutmuskaat na smaak. Pas die resep aan soos wat jy en jou huismense daarvan hou en volgens wat in jou kombuis beskikbaar is.