Die lewe gebeur. Bouwerk is substandaard, jou hond het die buurkind gebyt, die bure se muur val om op jou erf. Jou regte word aangetas. Jou skoonma gly op jou badkamermat en breek ongelukkig net haar arm. Jy het ’n eis teen jou.
Die kortpad is prokureur toe waar die advies gewoonlik is dat die ander party gedagvaar en hof toe gevat moet word. Die probleem is dat dié roete jou tyd en geld sal kos, deur ’n uitgerekte formele proses. Beide partye se prokureurs en advokate moet betaal word, en die rekenings en frustrasies groei eksponensieel soos dit vorder.
Jou prokureur behoort jou te vertel van die ander alternatief, ingevolge die Wet op Arbitrasie, Wet 42 van 1965, wat voorsiening maak vir privaat arbitrasies om ’n geskil op te los, in plaas daarvan as om deur die hofproses te gaan. Slegs egskeidings en bevele rondom die status van ’n persoon mag nie deur arbitrasie besleg word nie.
Die arbitrasieproses moet uit hoofde van ’n ooreenkoms tussen die partye geskied. Sommige skriftelike kontrakte maak voorsiening vir arbitrasie. In gevalle waar daar nie reeds ’n ooreenkoms is nie, moet die terme van arbitrasie tussen die partye of hul prokureurs ooreengekom word, en skriftelik in ’n ooreenkoms vervat word.
Die arbitrasie-ooreenkoms vervat dan ook die opdrag aan die arbiter waarvolgens hy sy bevoegdhede moet uitoefen. Die belangrikste bepalings in die ooreenkoms sal onder andere wees:
- Wie tree as arbiter op? Gewoonlik ’n onafhanklike prokureur/advokaat met ondervinding, maar dit kan ook ’n persoon met spesifieke kundigheid en ervaring in ’n spesialisveld wees.
- Gaan regsverteenwoordiging toegelaat word? Verkieslik nie, om koste te bespaar, behalwe as dit ’n ingewikkelde saak is wat regsbystand vereis.
- Is daar ’n reg tot appèl? Nee, die bevel is finaal, tensy spesifiek anders ooreengekom word.
- Kan die arbiter billikheidsoorwegings in ag neem? Ja, anders word slegs streng regsbeginsels toegepas.
- Kan daar ’n tydsduur gekoppel word aan die proses? Ja, die ooreenkoms kan tydslimiete op die proses plaas om dit spoedig af te handel.
- Wat van koste? Die arbiter kan kostebevele maak rakende sy eie koste en moontlike regskoste reeds aangegaan.
- Wat van getuies? Getuies kan gedagvaar word om by die proses te verskyn.
Die voordele van arbitrasie is:
- Die arbitrasie-ooreenkoms en -proses is plooibaar en word tussen die partye self ooreengekom.
- Dit bespaar meestal heelwat koste en tyd.
- Dit is 100% konfidensieel en vind in ’n privaat lokaal op minder formele wyse plaas.
- Dit dra ook by tot minder frustrasie en emosionele impak op die partye.
Die partye kan ook ooreenkom dat die arbiter vooraf die verrigtinge deur mediasie probeer oplos. Die mediasieproses is informeel en daarop gerig om die geskilpunte te bepaal, en by wyse van gesprek ’n skikking tussen die parte te probeer bereik, voordat daar met die arbitrasieproses begin word. ’n Suksesvolle mediasie spaar geweldig tyd en koste en verminder trauma by die persone betrokke.