18.7 C
Mossel Bay
29th November 2023
Community & LivingNature & NurtureTourism & Travel

WAVECREST SE DINNER

Soms, net soms, ontmoet jy iemand wat lewenslank ’n onuitwisbare indruk op jou maak. Meer nog, wie se oënskynlik eenvoudige lewensuitkyk almal rondom hom tot stillstand ruk en diep laat nadink.

Ons ontmoet vir Dinner ’n jaar of wat terug tydens ’n staptog aan die Transkeise kus. Tydens die 6 km-roete vanaf die Wavecrest Hotel oor die Kobonqabarivier vra iemand terloops vir Dinner, ons gids uit die Gcaleka-stam, of hy darem sy werk geniet.

“Beslis,” antwoord hy met sy kenmerkende skewe glimlag. “Dit maak my gelukkig om vir stappers my stukkie hemel te kan wys – hier waar ek kan luister na die musiek van die see, hoe die voëls van die bos vir my fluister terwyl ek met my een oog die wind en die wolke dophou.”

En so ont- en omvou Dinner se aangrypende verhaal op ’n vergete weeksoggend ons groepie stappers êrens op Kobonqabarivier se kusvoetpadjie:

Hy vertel dat hy sy opwagtiging tydens “dinner-tyd” in ’n Kaapstadse hospitaal gemaak het. En as jy tydens dinner kom, is jy lastig en ongewens, want dinner is moontlik vir hospitaalpersoneel belangriker as jou koms in hierdie wêreld. “Amper soos destyds toe Iemand ook ontydig en ongewens was in die besige Betlehem,” laat my man val!

Voorts vertel Dinner dat hy sy een oog en byna sy lewe verloor het tydens onluste in die Kaap. As dit nie was vir die drie weke van genade in Groote Schuur nie …

Hy het maar graad sewe behaal en skryf dikwels sy naam, soos Iemand Anders, in die sand van die aarde. Hy vertel ook van die diepe vrede van om sewe kinders groot te maak terwyl hy elke oggend bid: “Gee my net vandag se brood!” Om elke dag weer soos die voëls van die hemel en die lelies van die veld jou dag se loop te loop loop en glo daar sal wel genoeg stappers wees om nét vir vandag te sorg.

Met elke tree verdiep die wete by my dat hierdie man uit Afrika voorwaar ’n groter rykdom het as ons almal op hierdie staptog, mét ons aardse goed én ons geld én ons wyslose geleerdheid.

Hy vat ons aan die hand en lei ons in en deur sy nuwe wêreld hier langs die see. Kopskeef leer hy ons luister na die stem van die see en hoe die klanke fossileer in die rotse. Ons dartel saam met die pluk van die wind. Ons luister na die jakkalsbessie, wit melkhout en rooi essenhoute …

Met die groetslag kyk ek verwonderd na hierdie mens wie destyds lastiglik oor dinner gekom het, maar met wie God beslis ’n langer as dinner-termynplan het.

Related posts

A DOLPHIN IS A DOLPHIN RIGHT…?

S.M. A.R.T

Conservancy lends Helping Hand to Child Welfare

Scott Thomson

Traumadekking

Des Sinclair

KLEIN DADE IS BETER AS GROOT WOORDE

Laurinda Smit

SEVEN REALITIES YOUR CHILD COULD FACE IN THE DIGITAL WORLD

Cheryl Barnett

RUSTIG …

Laurinda Smit