“Stoomtrein se baas!” Só praat die gladdebekke wat al ’n onderonsie met ’n witsteenbras oorleef het.
Daar is min visse wat so lekker kan wegtrek in die vlak water soos ’n witsteenbras. Die hoogs bedreigde spesie se getalle het drasties gedaal en ons hengelaars moet werklik verantwoordelik optree wanneer ons die ou grotes vang. Neem ’n vinnige foto en laat hulle tog maar vry. Maak ook geraas indien jy hom by ’n restaurant kan koop, want dit is tans onwettig.
Vir diegene wat die stoomtreine wil teiken om weer vry te laat, is die beste tyd nou in die winter.
Probeer die sandbanke vroeg in die oggend of laatmiddag. Laagwater of stoorwater is telkens die beste tyd afhangende van die struktuur. Wit, werkende golwe met skuim is hulle plek, maar vermy groot branders wat plof. Min vis hou van sterk strome; wanneer jou sinker dus kwaai spoel, kan jy amper seker wees die groot vis sal ook nie byt nie.
Die beste aas vir steenbras is bloedwurm (onthou die aaskwota is vyf vir wettige permithouers), sandkrappe, sardiens, tjokka, mossels en garnale. Hier is ’n paar voorbeelde van dunnerige aasaanbiedinge wat goed kan werk.
Let op dat ’n skelmhoek baie suksesvol kan wees vir langerige ase. Weereens is sirkelhoeke ’n beter keuse – die Trident Kobu #2/0-5/0 of die Japanese Hayabusa #1/0-2/0 Ultra thin op die sagter ase werk goed.
Vir J-hoeke op krappe hou ek van Mustad se Red Tarpon #4/0-5/0 of ’n Kendal Round 8/0, en op garnale werk Mustad se Baitholders of Ringed Soi se hoeke in #3/0-5/0 baie goed.