Hoekom Hardop Lees Belangrik is vir Jou Kind
“The evidence has become so overwhelming that social scientists now consider read-aloud time one of the most important indicators of a child’s prospects in life.” – Meghan Cox Gurdon.
Data tot ons beskikking dui daarop dat die hardop lees van boeke vir vierjariges vanaf die 2000’s met 60% gedaal het en steeds besig is om af te neem.
Dit is ’n groot rede tot kommer, aangesien dit ’n bewese feit is dat dit woordeskat, fonologie en die begripswêreld van ’n kind regstreeks beïnvloed.
Benewens die akademiese mylpale het dit ’n verdere invloed op kinders se konsentrasie en aandagspan en ook die vermoë om ’n logiese opeenvolging van gebeure te kan weergee. Begrip vir oorsaak en gevolg ontbreek en dink net hoeveel interpretasie van gedrukte prente en woorde gaan verlore.
Om ’n liefde vir boeke en stories by jou kleuter aan te wakker is die grootste geskenk wat ’n ouer aan ’n kind kan gee. Die wêreld word vir hulle oopgebreek en wanneer hulle self begin lees, sal hierdie wonder vir hulle relevant en belangrik bly.
Die versterking van verhoudings, gefokusde tyd en sekuriteit wat hierdeur bewerkstellig word, het ’n regstreekse invloed op die kind se stresvlakke en emosionele welstand. Dit leer hulle fokus, kommunikasie, om voortdurend nuuskierig te bly en leer en dan natuurlik uithouvermoë en die afhandeling van ’n taak.
Om te leer is nie losstaande van verhoudings nie, dit maak staat daarop! Kyk prakties hierna: ’n volwassene en kind lees saam, die kind voel veilig, geborge, belangrik, geliefd en opgewonde.
Kleure, vorms, emosies, voor- en agtergrond, klanke en letters word blootgestel. Klank is ’n baba se belangrikste bron van leer. Hulle emosies word aangewakker, hulle belééf die storie, besin daaroor en gebruik dit dan weer in die alledaagse lewe as kennis en verwysing.
Biblioteke is oral, ’n wonderwêreld tot ALMAL se beskikking.
Maak gebruik daarvan en MAAK TYD!




