‘n Kerneienskap vir karakter
Daar is iets te sê oor verantwoordbaarheid, of aanspreeklikheid. Vir my verteenwoordig dit deugde, dit is die eienskap wat die ruggraat van karakter vorm. Om gekonfronteer te wees met iemand wat nie aanspreeklikheid aanvaar nie, is ‘n helderrooi lig wat waarskuwend flikker. Ons kyk dikwels na sjarme, prestasie en goeie bedoelings.
Maar vra ons ooit of iemand verantwoordelikheid neem vir hulle optrede? Vir ‘n leuen, manipulasie, ‘n bitsige opmerking en die impak van hul gedrag op ander en die omgewing? Wanneer aanspreeklikheid afwesig is, hetsy in ‘n besigheid, gemeenskap, vriendskap of ‘n liefdesverhouding vind daar ‘n verskuiwing in ewewig plaas.
‘n Mens kan hoe avontuurlustig, intelligent, ruimhartig en vrydenkend wees, maar as jy nie aanspreeklikheid kan aanvaar vir jou misstappe nie, dryf al daardie mooi eienskappe ongeankerd rond. En dan raak integriteit selektief…
Dalk help dit om ‘n bietjie te kyk waarom mense aanspreeklikheid ontwyk. Gabor Maté, ‘n Kanadese geneesheer en skrywer wat in kinderontwikkeling en trauma spesialiseer sê om skuld te erken kan skaamte oopvlek en om verantwoordelikheid te neem, ou wonde ontbloot. Dis wanneer rasionalisasie en projeksie op die toneel verskyn. Ek noem hierdie gedugte span die RP-egpaar, want dié twee verdedigingsmeganismes span gewoonlik saam in ‘n poging om die selfbeeld te beskerm. En sodoende die werklikheid te verdraai – ook bekend as ‘gaslighting’.
Rasionalisasie is wanneer iemand logiese redes gee om onaanvaarbare gedrag te regverdig. Nie om dit te verklaar nie, om dit te regverdig. Projeksie is wanneer onaangename of onaanvaarbare impulse, emosies of gedagtes toegedig word aan ‘n ander. ‘Blame-shifting’ in Engels. Jy beskuldig ‘n ander dus waaraan jyself skuldig is: ‘Sy is oneerlik’ in plaas van die werklike, ‘ek is oneerlik’. Die leuenaar vertel graag hoe verkeerd die ander is en die manipuleerder vertel maklik hoe die persoon wat dreig om hulle te ontbloot, manipulerend is. Manipulasie word dus ’n manier om beheer te behou en om pyn te vermy.
In gesonde gemeenskappe floreer verantwoordbaarheid, sê die Amerikaanse navorser en maatskaplike werker, Brené Brown.
Dan, sê sy, is mens bereid om kwesbaar te wees en daarvoor moet mens ander vertrou. Navorsing oor die etiese werkswyses in organisasies bewys voorts dat verantwoordbaarheid, ‘n besliste teenvoeter vir manipulasie en onetiese gedrag is.Deursigtigheid skep gesondheid; troebelheid kweek misleiding.
Aanspreeklikheid is nie hard nie, dis helder.
Manipulasie kom saggies, maar o, so sluipend.
Hou oop jou oë. Soek aanspreeklikheid as kerneienskap in elkeen en wanneer dit ontbreek, afgesien van hoe bekoorlik of begaafd iemand is, is dit die rooi lig wat jy nie kan bekostig om te ignoreer nie.




