Editorial April

The Post is in die wolke; Benewens die feit dat ons vandeesmaand ons twintigste bestaansjaar vier, glo ons ook dat dit die ideale tyd is om na agt jaar sedert die herposisionering in 2018, die eksemplaar van die spreekwoordelike rak af te haal vir afstof, opknap en te vernuwe. Ons het besluit om ons stoute “hoëhak blou skoene” aan te trek en ‘n illustrasie wat deur kunsmatige intelliensie (KI) geskep is, op die voorblad te plaas, net omdat ons kan. 

Ek het lank getob oor ʼn bypassende boodskap by die veranderinge van hierdie gemeenskapsproduk en die gedagte wat by my opgekom het was “genade”. Ek is nie heeltemal seker of dit verband hou met my lewensjare wat gedurende Maart aangeskuif het en dit gewoonlik ʼn sinvolle tyd  is om alles weer in oënskou te neem nie en of ek nadink oor wat die pad vorentoe  mag wees nie …  maar kortom…. alles is genade. 

Oor tyd heen was daar situasies/geleenthede; wat maklik, moeilik, selfs ondraaglik swaar was op die lewensreis. Daar was individue, groepe, familie en ʼn samelewing wat laer getrek het  om die wa deur die drif te help. Elkeen van hierdie sandkorrels het deel geword van my lewensuurglas. Soms het die sandkorrels vinnig deurgeval, met ander tye was dit pynlik lank , maar nooit  het dit stilgestaan nie. Elkeen van hierdie sandkorrels, besef ek, my geslyp tot die mens wat ek vandag is, die plek waar ek myself bevind en hoe ek kies om vorentoe te beweeg. As ek dit alleen sou moes doen, sou dit waarskynlik ‘n aansielike moeiliker reis gewees het. Ek besef dat dit wat oor ons pad kom, hetsy keuses , verstaanbaar of onverstaanbare gebeure, hulle wat saam reis of dit wat ons groet,  hoe die lewe ookal ontvou , bly genade. 

Wat ek wel met sekerheid weet is, elkeen van óns kan daagliks meer genade uitdeel; omdat ons dit in oorvloed ontvang, sonder dat ons altyd bewus daarvan is.