Editorial Augustus
Alhoewel ek dankbaar is dat die son reeds gedraai het en die somer in aantog sal wees, besef ek uit dure ondervinding dat dit ʼn lang wag is alvorens daar nie langer warm plekkies in die huis opgesoek moet word vir die kort oomblikke wat die son daar val nie. Die wintermaande duur soms langer as wat ons behoeftes en verwagtinge is.
Elke seisoen ontvou wanneer die tyd reg is. Amper soos wanneer ʼn legkaart gesit en bou word, dit neem tyd en aktiwiteite om elke legkaart stuk sorgvuldig uit te soek, in te pas, glad nie pas nie en dan wel die regte stuk te vind. Die prent is nooit eensklaps voltooi nie, dit kom en ontvou oor tyd.
Soos die uitsoek en pas van legkaartstukke, so is ons lewens soms, oor tyd pas en behoort ons of voel ons onsself nie langer gemaklik in sekere situasies, by groepe, gebeure of in die lewe nie. Niks het aanleiding gegee tot hierdie nie inpas, aanpas, byhou, aanhou of uithou nie, dit is net wat dit is. Vir elkeen van ons vind groei op ʼn emosionele, spirituele of geestelike vlak plaas gedurende verskillende seisoene van ons lewens. Geen twee individue groei teen dieselfde tempo of in die onderskeie fasette van hul menswees op dieselfde tyd nie. En soos dit tyd neem om sorgvuldig die regte legkaartstukkie uit te soek, te vind en neer te plaas, so behoort elkeen van ons met onsself en ander om te gaan. Om weg te stap, terug te staan, by te staan, verg lankmoedigheid, omgee, steun en seker die moeilikste, stilte en stilswye. Met tyd wat verloop stap jul mekaar weer raak, vloei die water in die rivierloop weer saam met nuwe vertellings en gebeure, die stilte verbreek, vernuwe.
Beskik ons oor hierdie eienskappe in ons omgaan met ons geliefde, vriende en onbekendes wat ons pad kruis. Het ons onbewus en onsensitief geraak vir die lewens seisoene? Vir die geduld en verdraagsaamheid om oor tyd asem te skep terwyl elkeen van ons se lewens legkaartstukke uitgesoek, gepas en ingepas word.