Editorial Maart
Die woord welgeluksalig, wandel al vir paar dae in my gedagtegang rond. Oor tyd het ek al geleer dat hierdie tipe van bewuswordings aandag verdien…
Ons weet almal dat wanneer dit met onsself, ons huweliksgenoot, die kinders die kleinkinders, ons leefruimte “wel” is dan ervaar ons “geluk”, die tipe van geluk wat dikwels nie in rand en sent gemeet word nie. Dit kan nie noodwendig altyd verwoord word nie; dit is ’n wesensaard, ’n gemoedstoestand. Hierdie euforie word gevolg deur ’n “salige” gevoel van bewustheid – weereens ’n belewenis wat moeilik in woorde aan ’n ander oorgedra kan word.
Dikwels is dit ’n innerlike gevoel.Elkeen van hierdie woorde staan sterk op hul eie, maar wanneer hul saamgevoeg word, kan dit beteken om baie gelukkig, geseënd en innerlik vervuld te wees. Dit beskryf ’n toestand van diep geluk en tevredenheid, dikwels met ’n geestelike of emosionele dimensie.
Ek wil glo dat almal van ons moontlik al so ‘n dag, oomblik of geleentheid ervaar het, iets wat daadwerklik ʼn blywende indruk of gevoel by ons gelaat het. Belangriker is seker die vraag; “kan ons verantwoordelik wees vir ons eie welgeluksaligheid?””
Ek wil glo ons kan, aangesien welgeluksaligheid nie net iets is wat met ons gebeur nie; dit is ook iets wat ons bewustelik kan ontwikkel deur ons ingesteldheid, belewenis en lewenskeuses.
Is ons dit nie aan onsself verskuldig om meer “welgeluksalige” oomblikke in ons lewe te skep nie ?


