Editorial November
Onlangs, na afloop van ’n projek, vra iemand my: Was die projek ’n sukses?
Op daardie stadium het ek nie ’n antwoord gehad nie.
Twee weke later, toe ek deur die foto-album begin blaai om foto’s uit te soek, het die woorde in my kop begin ronddans – en emosies oor my gespoel. Vir die eerste keer het ek die werklike omvang van die taak besef: rolspelers en individue wat hande vat in die aanpak, uitvoering en voltooiing van ’n omvangryke projek soos die onlangse Muse-fees.
My oog val op ’n foto van ’n ouerige paar tydens die Wolwedansdam-Stap. Hulle hou aan mekaar vas terwyl die gids die man aan die hand lei deur die vlak, bruisende water. By hul terugkoms, verklap hul bloesende gesigte en onophoudelike gesels alles.
’n Ander oomblik was tydens die braaibroodjie-kompetisie: die erns waarmee twee van die deelnemers die vuur betrag het! Die dame in haar Voortrekker-rok en -kappie – dit is immers Erfenisdag – het voluit meegedoen! Nog ʼn deelnemer, wat nie skaam was om sy geheim te verklap (dat dit alles oor die botter se tekstuur gaan), het behoorlik gejuig toe hy as wenner aangekondig word. Ná diep waters het hy nodig gehad om weer te hoor: Hy is steeds ’n wenner.
My persoonlike hoogtepunt was egter die kleuters en primêre skoolkinders waarmee ons speletjies gespeel het, en vir elkeen die geleentheid gegee het om hul eie spekboom te plant en huis toe te neem. Toe ek vra: “Wat het die plantjie nodig?” het hul refrein sonder huiwering gekom — “Liefde en water”.
Wat sou ek daardie persoon nóú antwoord?
Sukses, vir my, is om die weg te baan: om geleenthede te skep vir ander om weer iets te ontdek wat hulle gedink het verlore is; om waagmoed aan die dag te lê, te groei, betekenis te vind, en in harmonie met mekaar en die omgewing te leef.
Leef en laat leef.
Hoe sien jy sukses?









