Ek wil glo dat almal wat hierdie stuk lees, met iets daarin kan identifiseer…
Elkeen van ons het bepaalde voorkeure — en natuurlik, afkeure. Soos daar aangestap word op die glybaan van tyd, word dit vir my al duideliker dat ek vinniger by een van hierdie twee aspekte uitkom. Dat ek al genoeg aan my neus rondgelei is, of dalk al ‘n bykomende paar ore aangesit is om beter ingestel te wees wanneer diesulkes my pad kruis.
Ons leer nie bloot onsself beter ken deur die tipe wyn, kos geselskap, boeke of seisoen wat ons verkies nie – ons word ook insigte in in ons eie geite en gewoontes gebied. Die behoefte om raakgesien te word of jou opinie te lug, word al minder belangrik. Jy weet doodeenvoudig nou van beter. Die werklikheid is: ons wyk soms van die wentelbaan af en verbaas of stel onsself teleur. Ons is en bly immers net mens.
Om aan te sluit by bostaande: uit my ervaring is een van die moeilikste dinge om iets aan iemandte verkoop.
Nog moeiliker is dit om die geld ná die tyd uit hulle te kry! Dit is juis tydens so ‘n tandetrek-sessie dat ek my wend tot ‘n oproep aan ‘n hoofkantoor, gevolg deur ‘n e-pos. Tot my verbasing kry ek binne enkele minute erkenning dat dit ontvang en aangestuur is.
Ek besluit net daar en dan om te antwoord met die volgende woorde: “Jy is my hero vir vandag.”
Daardie aand lê ek in my bed en dink terug aan my jeug, toe ons almal “heroes” of helde in ons lewens gehad het — of dit nou ons ouers, ‘n Batman, Spiderman, rugbyspeler of onderwyser was. Ek besef hoe maklik dit sou wees as ons elke dag net een mens komplimenteer met daardie woorde: “Jy is my hero.” Min woorde, maar treffend. Woorde wat vir die persoon aan die ontvangkant die wêreld kan beteken — al is dit net vir daardie oomblik in sy dag.
Dit verg nie baie tyd, denke, geld of moeite nie — net eerlikheid en opregtheid.
Kyk of jy vandag ‘n hero kan identifiseer… en dalk albei julle dae kan opvrolik.