Hoe Sal Jy Jou Tyd Deel?

Voel dit vir jou asof tyd besig is om soos ʼn weghol trein spoed op te tel, veral nadat bepaalde kalendermaande verby is?

ʼn Nuwe seisoen word stil- stil in die natuur aangekondig. Die winde, reuke en bloeisels is aanvoelbare en prikkelende tekens van die veranderinge.

Ek hoor die woorde van die wyses in hul gesels; hoe ouer mens word, hoe vinniger beweeg die tyd. Ek het nie altyd die vrymoedigheid om te vra wat dit werklik beteken nie, miskien wil ek nie die antwoord hoor nie, moontlik verskil elkeen se siening hieroor.

Selfs die beste van intensies en voorneme om nie weer vasgeval te raak in “tyd”, of dit nou te min of te veel tyd is en hoe om by alles uit te kom nie, raak vaag. Elkeen van ons kry dieselfde porsie tyd in ʼn dag, vir solank dit die besturing is. Dit is hoe elkeen kies om met porsies tyd om te gaan, wat werklik saak maak?

Wat wel waar is, is dat sommige van ons se energievlakke toeneem in die somer en ander individue weer hoër vlakke gedurende die winter beleef. Hoe wonderlik om te weet dat die natuur deur dieselfde siklusse gaan en êrens pas elkeen van ons in en is ons deel van ʼn ritme van tyd…Opnuut die bewustheid dat die yen en die yang van die lewe mekaar uitkanselleer en balanseer.
Met die aanvang van die nuwe seisoen, vra ek dus hoe jy jou tyd gaan aanwend, deel en verdeel tussen die porsie wat jou siel voed, jou geliefdes ondersteun en jou gemeenskap help opbou en inspireer?