MOET NIE UITMIS NIE

Onwillekeurig is ek deel van ʼn gesprek, gewoon omdat die koffiewinkel se tafels nie voorsiening maak vir persoonlike ruimte nie. Ek sit langs ʼn groep dames. Na ʼn rukkie is dit vir my duidelik dat hierdie hul weeklikse bymekaarkom is. Die een dame met die parmantige modieuse haarstyl, vertel dat haar liddoring besig is om haar teen die mure uit te dryf. Ek is nie seker of haar klagte gaan oor die liddoring of die wye keuse van skoene wat besig is om stof op te gaar, aangesien sy dit nie langer met gemak kan dra nie. Die gesette dame laat nie op haar wag nie; as Hendrik my nog een nag uit die slaap hou met sy heup wat alewig neuk, trek ek spaarkamer toe. Die dame wat lyk asof sy dikwels mouloos op die strand loop gooi haar stuiwer in die beurs. Ek hoor julle, die feit dat ek my “Meesters” tennistoernooi vaarwel moet roep, aangesien my knieë die hardloop rem, kan ek nie hanteer nie…

Ek kom nie agter dat ek meegevoer is deur die gesprek nie, op so wyse dat ek al op die punt van my stoel sit, reg om my inset te lewer oor my kroontjie wat oornag sy opwagting regs agter in my kapsel gemaak het. Eerstens kan ek nie mooi sien nie, nog minder weet ek hoe om dit onder beheer te bring aangesien my kop nou effe van balans af vertoon. In my binnegesprek wonder ek, kon die kroontjie nie by my kuif wees nie, ek is seker ʼn professionele haarkapper sou op ʼn stylvolle wyse dit deel van my nuwe “look & feel” kon maak.

Met ʼn lag na binne en huppel in my stap gaan ek na buite. Niks gaan my onderkry nie, dit is immers die eerste September, die lente is hier. Ek was nou wel nie my Ouma Kittie van Oudtshoorn se lenteblommetjie kleinkind nie. Die lente bring ontwakings van binne na vore na die lang winterrus. Die geur van pronkertjies bring heimwee van kinderjare, maar dankbaarheid dat ek ʼn bossie kan pluk en in my gunsteling glasblompot op die bedkassie sit. Die sonsopkoms uit my kamervenster, dwing my om my gordyne oop te trek, sodat ek op niks uitmis wanneer die dagbreek aangekondig word nie.

Terwyl ek aan my koffie teug en wag vir die sonsopkoms, besef ek die lewe is vol “lastighede” die voorsiene en die onvoorsiene, maar ek wil glo dat wanneer ons bewustelik leef, jy nooit sal uitmis op die draai van seisoene en die nuwe wat dit teweegbring nie.