Nuwe studie wys: Honde verstaan speelgoed se doel beter as wat jy dink

Navorsing toon dat sommige honde nie net speelgoed kan herken by naam nie, maar dit ook kan groepeer volgens hoe dit gebruik word tydens spel – sonder dat iemand vir hulle wys of sê wat om te doen.

’n Groep honde is by hulle eienaars se huise getoets. Hierdie honde was reeds bekend daarvoor dat hulle baie speelgoedname kan onthou. Eerstens is hulle blootgestel aan verskillende speelgoed items soos balle, toue, ringe en pluisdiere.

Hulle het saam met hul eienaars speletjies gespeel wat óf as “trek” óf as “gooi” beskryf is. Dit was nie die voorkoms van die speelgoed wat die verskil gemaak het nie, maar die manier waarop dit gebruik is.

Daarna het die honde nuwe speelgoed gesien wat hulle nog nooit vantevore teëgekom het nie. Hulle moes dan uit ’n versameling items kies watter een by “trek” of by “gooi” pas, gegrond op wat hulle vroeër geleer het.

Verrassend genoeg het die meeste honde die regte keuse gemaak, selfs met heeltemal onbekende speelgoed.

Hierdie gedrag wys dat honde in staat is om meer as net name of woorde te leer. Hulle verstaan ook die funksie van ’n voorwerp – hoe dit gebruik word – en kan daardie kennis toepas op nuwe situasies. Dit beteken hul denkvermoë is meer buigsaam en kompleks as wat lank aangeneem is.

Nie alle honde beskik noodwendig oor hierdie vermoë nie, want dit is veral dié wat reeds goed is met woordleer wat daarin uitblink

Tog toon die resultate dat honde se denke oor speelgoed nie beperk is tot hoe dit lyk of voel nie, maar ook tot die aksies en doel wat daarmee verband hou.

Bron: Science News