GRENSE: ‘N HOEKSTEEN

‘n Grens is die plek waar jý eindig en ‘n ander begin. Dis die lyn waaroor daar nie getrap word nie. Dis nie ‘n muur nie. Dis ‘n heining. Ons sien mekaar en ons kuier oor die heining; die grens wat ons ruimte en ook ons verhouding beskerm.

Grense is die hoeksteen van ons emosionele welstand.

Iemand wat nie grense stel nie, verduur onaanvaarbare gedrag. Dikwels is dit die ‘people pleasers’ wat toelaat dat ander oor hulle loop en hulle misbruik. Hulle sê, ‘ja’ wanneer hulle heimlik ‘nee’ wou sê, want hulle is bang hulle stel mense teleur. Of hulle probeer konflik vermy of hulle vrees waarskynlik verwerping. Sulke mense is dikwels meer bekommerd oor ander se siening van hulle as oor hul eie emosionele welstand.

Om nie grense te hê nie, is om te dink jy gooi jou grasperk nat terwyl jy besig is om die buurman se gras water te gee. Kort voor lank geniet Buurman lowergroen gras terwyl jou lappie geel en verdor lê.  Die gevolg? Wrewel. Want mettertyd groei ‘n stille bitterheid wanneer ons ons eie behoeftes en waardes bly oorsien. Om ‘n grens te stel is ongemaklik, maar Brené Brown, maatskaplike werker en navorser beveel aan dat jy liefs die aanvanklike ongemak bo wrewel moet kies.

“Daring to set boundaries is about having the courage to love ourselves, even when we risk disappointing others.”

“Nee” is nie selfsugtig nie, dis selfrespek. Dis nie verwerping van ander nie, dis bevestiging van wie jy is. Dit skep duidelikheid en mense weet waar hulle met jou staan. Grense is daarom die geskenk wat jou die vrymoedigheid gee om eerlik te kan leef en om verhoudings te handhaaf wat gebou word op respek, vertroue en duidelikheid.

Sonder grense moet jy vat wat jy kry.

Met grense kan jy kry wat jy vra.

En van mense wat nie jou grense respekteer, raak jy eenvoudig ontslae.