GAAN DIT NET OOR KARRE?

Die reuk van warm metaal vanaf die oudste Mercedes op die Ou Motorskou in George wat reg voor my staan vir die verbyrit. Van tweeslag-olie as die DKW’s wegtrek met hul kenmerkende rokende uitlaatpype. ’n V8 wat goedgunstelik deur die eienaar aangeskakel en waarvan die revolusies opgejaag word, onder toejuiging van bevoorregte toeskouers. Honde wat wegvlug en kinders wat aan die huil gaan oor die lawaai. Eienaars gewillig meegevoer tot die toerebeperker inskop! Ou karrehemel! Idilliese oomblikke. Die ideale wêreld waarheen ontsnap word, teruggevoer na goeie tye, jou jeug en die karre waarmee jy grootgeword het. Wildvreemdes wat soos ou vriende gesels. Wat uitvra, komplimenteer, luister, bewonder en kwyl.

Na ’n baie lang afwesigheid besluit ek om weer na die Motorskou te gaan. Ek soek inspirasie met ’n 1965 Anglia 105-skuinsruit wat langer in die garage op bokkies staan as wat ek wil onthou. Dit sal my weer aanspoor. Ter versagting as rede vir die koop – vanaf die Escort Mk2-stuurkas, instrumentasie, 1600-enjin met ’n “branch”, 5-spoedratkas, verstelbare stutte, Escort-voorsuspensie, elektriese ruite tot oranje sportsitplekke wat 50 mm gesak is sodat net daglig onderdeur kom en – wag daarvoor – ’n Mercedes-rooster! Alhoewel ongesiens gekoop, was my wens dat die kar so mooi sou wees dat ek niks sou moes doen nie! Ek hoef seker nie verder daaroor uit te wy nie …

Die Anglia sou die laaste een wees. Om konteks te gee – dit was na die Anglia Super van my pa, die 50 cc Honda SS van my laaste twee jaar op skool wat ek nuut gekoop het vir R120, twee Vespas, twee Beetles, die Ford Popular, twee Alfa Juniors, BMW 2002, Cortina Mk2, Giulietta 1800, Yamaha 1100 Virago en drie bote. Dit sou mos lekker wees om iets te hê om te doen na aftrede? Dis mos aangenaam om op koue sement onder ’n kar te lê en wonder wat nou? Dit daag jou uit sodat jy langer jonk bly?

En was daar nie mooi Anglias by die skou nie! Oorspronklikes, pasklaar gerestoureer – een donkergrys met swart 18 duim-allooiwiele met ’n rooi strepie, Pinto 2 liter en turbo! Verskeie ander met ’n paar modifikasies. Het ek motivering gekry? Verseker. Die kar moet klaarkom, al sal ek mooi moet kyk waar ek kan vasgryp vir die opkomslag van die vloer af.

Wat is my grootste motivering? Die feit dat so baie mense kans sien om so baie karre te restoureer. Dis bemoedigend dat nie net ek aan hierdie siekte ly nie. Ek het verwonderd gestaan oor die geweldige omvang van energie, tyd, kreatiwiteit, vaardigheid en vasbyt wat blyk uit elke restourasie. Dae, nagte en jare en die geld wat geheim gehou moes word vir die vrou. ’n Industrie op sy eie en werkverskaffing soos min!

Dit het voorgekom asof ’n hele paar karre Vrydag 9 Februarie 2024 voltooi is. Die Fairmonts op die een punt, die sjokoladebruin Volvo 122 S-tweedeur op ’n ander punt, die “Racing Green” E Type van Knysna met die oop enjinkap, die V8-Ford en Chev-bakkies, die ander Rods, die Mini’s, Beetles, Capri’s, Cortina GT’s.  Die sjokoladebruin  Guilia met Momo Vega-vellings. En moenie van die Gordini van Humansdorp vergeet nie. Vergewe dat ek nie alles kan noem nie.

Die magtigste ervaring was by die Duitse fabrikate – BMW, Mercedes, Volkswagen, Porsche. Ek het eers Sondag daarby uitgekom, maar dit was so bestier. Vasgehaak by die 300 SL’s. By die tent van ontmoeting. Ek beskryf dit in Bybelse terme om my diepe geraaktheid aan te toon. Eers nie geweet of ’n blote sterfling sy voet oor daardie drumpel mag sit onder die skaduwee in nie? Of ’n mens op jou knieë daar moet inkruip as bewys van respek nie? Na waarneming soos die 12 verspieders in die Beloofde Land, so eerbiedig moontlik met neergeslane oë genader. Net betyds om ’n gesprek te hoor van iemand daar wat vertel hoe hy in 1957 die spesifieke 300 SL gediens het terwyl hy gewerk het by ’n Mercedes-agentskap. Verbysterend!

Een van die eienaars het syne aan die gang gesit. Klink heel anders as toe ek die Anglia laas jaar vir 10 sekondes aan die loop gekry het. Rook ook glad nie soos die Anglia nie. Ineens besef ek, ek is klaar met die skou – ek kan nou huiswaarts keer na die Anglia.

Op pad huis toe worstel ek met die betekenis van hierdie belewing. Gaan dit net oor karre? Dat so baie petrolkoppe in George, Knysna en Mosselbaai afgetree het dat ’n skou van hierdie formaat 27 jaar gelede kon ontstaan? Dat soveel mense daarheen stroom? Dit bewys seker dat alles net oor metaal, glas, plastiek, rubber, petrol, ratte, suiers, ringe, olie en boutjies gaan? Dat ek nie leer dat genoeg genoeg is nie?

Dit gaan oor veel meer. Dis die ydele gejaag na ewige jeug wat ’n mens dit laat doen. Oor en oor. Wat vergeetagtigheid kweek oor die sukkel, die vreeslike woordeskat wat aangeleer word, die selfverwyt en die ratkas wat drie jaar langs die bed gelê het. Dis goeie herinnerings wat jou oorhaal om ’n wrak te restoureer. ’n Poging om die tyd terug te draai na jeugdige dae. Die hunkering na tye wat verby is. My pa het my leer bestuur in sy Anglia Super – die een wat soos seesand gevoel het na ek hom skelgroen gesprei het op die sypaadjie. Met die ongesinkroniseerde eerste rat wat so sterk was dat hy teen ’n muur sou opklim as hy nie sou terugval nie.

Daarom die bereidheid om jouself om te praat dat hierdie een die laaste sal wees. Daarom dat die George-skou volgende jaar nog groter sal wees. En ek dalk weer inspirasie sal kom soek solank leef.