Maskers, narsiste en kulkunstenaars
In Engels is die woord, conman, afkomstig van confident man, en Google verduidelik: “Confidence with a sense of assurance based on insuffient grounds.” My begrip hiervan is die “spesiale-ek gebaseer op ‘n gefabriseerde narratief”.
Al is daar nie ‘n een-grootte-pas-almal-jas nie is die kernkenmerke en motivering by die verskillende tipe narsiste dieselfde: Hulle glo hulle is spesiaal en verhewe, hulle lieg deur hulle tande en hulle beheer en beinvloed narratief met manipulasie en “gaslighting”. Die gedrag van die openlike narsis (grandiose narcissist) en die verskuilde narsis (covert/vulnerable narcissist) manifesteer egter verskillend.
Die verskuilde narsis onttrek emosioneel, is passief-aggressief en blyk die nederige introvert te wees. Hulle smag na erkenning en bewondering, en gebruik ‘n slagoffermasker om hul doel te bereik: Arme ek, niemand waardeer my nie.
Dis baie moeilik om ‘n verskuilde narsis te identifiseer – selfs vir hul nabymense – want hulle kom voor as geweldig bedagsaam, hulpvaardig en standvastig. Dááragter kruip hul selfgerigtheid weg. Hulle ego’s is uiters broos en hulle sal jou slinks onder die bus gooi om daardie ego en hul posisie in (of pad na) die kollig, te beskerm. Hulle sal skaamteloos hulle kinders van die ander ouer vervreem deur slagoffer te speel, geheime te hou en dinge te doen wat die ander ouer opsetlik uitsluit. Alles agter-die-skerms-taktieke om die guns te wen (parental alienation). Agter die behulpsame, kalm introvert, sit ‘n verbete manipuleerder wat jou sal gaslight en verraai om hul eie insufficient grounds te probeer maskeer.
Die openlike narsis is dominant, arrogant, aandagsoekerig, selfverhewe, blatant manipulerend en jaag openlike bewondering na: “Kyk hoe fantasties en besonders is ek!” Hulle raak verbaal en selfs fisies aggressief – ‘n poging om die skande van hul insufficient grounds te verbloem. Die kwaadaardige – (in Engels malignant) narsis openbaar antisosiale gedrag en gebruik intimidasie, teistering en sabotasie as magsinstrumente.
Maskers beskerm nie karakter nie.
Ten einde laaste val die mombakkies weens insufficient grounds en bly staan die patologie soos ‘n paal bo water




