Editorial November 2026
Droom jy nog oor ’n beter toekoms?
Ek is nie seker wat my laat besluit het om vanuit ’n meer inspirerende oogpunt oor droom te skryf nie. Miskien is dit die wete dat droom binne elkeen van ons se bereik is, dat dit kosteloos is en dat ons enige oomblik die vryheid het om te droom. Miskien is dit belangrik om die konsep van droom eers binne die verwysingsraamwerk waaruit ek skryf, in konteks te plaas.
Om te droom, is om met die verbeelding verby die grense van die huidige werklikheid te beweeg en moontlikhede te verken wat betekenis, hoop en rigting aan die mens se bestaan gee. Dit is die ruimte waar die werklikheid soos dit is, ontmoet word deur die werklikheid soos dit kan wees. Soms bied droom ons die geleentheid om verby die uitdagings en beperkings van die alledaagse werklikheid te kyk en onsself nuwe moontlikhede voor te stel. Ek besluit, in die oomblik van inspirasie, dat ek ’n droomlys gaan begin. Met my sterk Calvinistiese opvoeding pootjie ek myself egter dadelik, aangesien die lys vir my te selfgesentreerd voel.
As planmaker herbesin ek die saak en besluit om kategorieë te skep: vir myself, my familie, my vriende, my gemeenskap, my land en die wêreld. Die drome vir myself kom maklik, maar wanneer ek oor die ander kategorieë begin nadink, haak ek weer vas. Dit sal ’n algemene droom moet wees waarmee ander hulle ook kan vereenselwig. Weer moet ek die gedagte oordink. Weet ek werklik waarvan ander mense droom, of wat ek vir hulle behoort te droom? Miskien moet ek verdere onderwerpkategorieë skep wat gemeenskaplike behoeftes insluit. Die aanvanklik goeie voorneme begin nou al hoe meer soos huiswerk voel! Uiteindelik kom ek tot die slotsom dat ’n mens waarskynlik nader aan die kern van die saak kom wanneer jy emosionele, fisiese, geestelike en spirituele behoeftes in ag neem.
Dit is immers aspekte van menswees waarmee ons almal, in ’n mindere of meerdere mate, kan identifiseer, ongeag waar ons ons bevind of hoe naby of ver ons aan mekaar is. Soos met soveel dinge in die lewe, besef ek gou dat ’n goeie gedagte of voorneme een ding is, maar dat die uitvoering daarvan toewyding, selfdissipline, deursettingsvermoë en waarskynlik ook geloof verg. Geloof dat dit wat ons vir onsself droom, maar ook dit wat ons vir ander en saam met ander droom, ’n daadwerklike verskil kan maak.
’n Verskil in hoe ons elke dag betekenis en sin aan ons eie lewe gee, maar ook in die moontlikhede wat ons help skep vir ander. Miskien lê die waarde van droom juis daarin dat dit ons herinner dat die toekoms nie bloot iets is wat op ons wag nie, maar iets waaraan ons deur ons gedagtes, keuses en dade kan help bou. Droom jy nog oor ’n beter toekoms?



