SKOOLGEREED OF NET SKOOLRYP?
Is my kind gereed om skool toe te gaan?
Beskik my kind oor die vaardighede om Graad 1 suksesvol te voltooi?
Verskeie Provinsiale Onderwysdepartemente het reeds begin om aansoeke vir toelating van leerders tot Graad 1, aan die begin van 2025, te verwerk. Die toetrede tot 12 jaar se formele onderrig is seker een van die belangrikste gebeurtenisse in enige kind se lewe.
Die smaak van sukses: die gevoel dat ons iets kan bemeester, dat ons vermoëns genoeg is en dat ons gemaklik en veilig voel in ‘n spesifieke situasie, is vir ons elkeen belangrik. Juis hieroor is dit van uiterste belang dat daar nie sonder meer aanvaar word dat ‘n kind gereed is om die formele onderrigstelsel van die skool aan te durf nie.
‘n Goeie vertrekpunt om te besluit of die 12 jaar lange skoolloopbaan betree moet word, sal wees om duidelike onderskeid te tref tussen skoolgereedheid en skoolrypheid.
Skoolrypheid verwys meestal na die ouderdom van ‘n kind. Meeste mense aanvaar egter dat as ‘n kind 6 jaar oud is, hy of sy ook skoolgereed is. Heelwat faktore, behalwe ouderdom, moet egter in ag geneem word.
In die verlede is na skoolgereedheid verwys wanneer die kind voldoen aan ‘n vasgestelde standaard van fisiese, intellektuele, visueel-motoriese vaardighede en sosiale ontwikkeling. Deesdae word daar egter ook sterk klem gelê op die emosionele gereedheid van die kind. Emosionele gereedheid verwys na ‘n gesonde selfkonsep. Die kind beskik oor die vermoë om in die skoolomgewing aan te pas, en sonder angstigheid of vrees aan al die eise wat deur
ormele onderrig gestel word, te kan voldoen.
Die volgende vier aspekte van enige kind se ontwikkeling kan as goeie riglyn van skoolgereedheid beskou word.
- Woordeskat is die aanduiding van ‘n kind se taal-ontwikkelingsvlak. Die vermoë om taal te beheer verseker leervermoë en begripsvorming. Korrekte sinskonstruksie en woordgebruik word verbeter wanneer die kind van jongs af aan goeie taalgebruik blootgestel word.
- Korttermyn ouditiewe geheue. Tydens formele onderrig word daar van kinders verwag om te luister, die inligting te verwerk, dit te onthou asook om dit weer te gee. Die voorlees van stories waar die kind dan die storie moet vertel kan hierdie vaardigheid ontwikkel. Syfer-vaardigheid kan uitstekend ontwikkel word deur die herhaal van ‘n reeks getalle in verskeie patrone. Die gevoel van sukses, wat belangrik is vir ‘n positiewe selfkonsep, kan in die latere fase van die kind se skoolloopbaan ‘n groot invloed hê op prestasie, veral in Wiskunde.
- Onafhanklikheid en waagmoed is ‘n essensiële hoeksteen vir suksesvolle onderrig en leer. Probleemoplossing kweek selfstandigheid en vestig ’n positiewe selfbeeld. Kinders wat waag deur soms self klere uit te soek om aan te trek, is besig om identiteit te vestig en probleemoplossingsvaardighede te oefen.
- Groot en fyn motoriese ontwikkeling en visueel motoriese ontwikkeling is van uiterste belang. Die bydrae wat deelname aan sport maak tot ’n gesonde liggaam en die belewing van die dimensies van die liggaam, kan nie betwis word nie.
Die kundigheid van ‘n professionele persoon kan aangevra word om op ‘n meer formele manier te bepaal of die kind gereed is om skool toe te gaan. Die proses sal
heel waarskynlik behels dat die kind se verbale sowel as nie-verbale intelligensie geassesseer word. Indien die tellings beduidend verskil, sal dit moontlik daarop dui dat die noodsaaklike vaardighede nog nie ten volle ontwikkel is nie.
Daar kan dan aanbeveel word dat die kind nog ‘n jaar in die pre-primêre fase bly sodat die nodige vaardighede wat vereis word om ‘n suksesvolle skoolloopbaan te geniet, kan ontwikkel of om hierdie vaardighede te verfyn.