STRAATLIGTE SE INVLOED OP INSEKTE
Wetenskaplikes glo dat kunsmatige lig die natuurlike ekologie van plante kan beïnvloed deur die proses van fotosintese te verleng. ‘n Onlangse studie het bevind dat straatligte wat snags brand, veroorsaak dat blare van bome so hard word dat insekte dit nie kan eet nie, wat die natuurlike voedselketting in gevaar stel.
Die navorsing, wat gepubliseer is in Frontiers in Plant Science, het gewys dat bome in stedelike ekosisteme baie minder skade toon as dié in landelike gebiede. Wetenskaplikes het vermoed dat die kunsmatige lig van straatligte moontlik ‘n rol hierin speel. Straatligte het ’n verrassende uitwerking op die blare van die bome wat ondersoek is, wat dui op ‘n skakel tussen ligblootstelling en blaarhardheid.
Navorsers het twee algemene spesies bome wat langs strate groei, bestudeer: die Japannese pagodaboom en die groen asboom. Die pagodabome het kleiner, sagter blare wat insekte normaalweg verkies om aan te eet. Wetenskaplikes het egter vermoed dat plante in gebiede met hoë vlakke van kunsmatige lig meer fokus op verdediging as op groei. Dit sou beteken dat hul blare harder sou wees en hoër vlakke van chemiese
verdedigingsverbindings bevat.
Om die effek van kunsmatige lig op bome te toets, het hulle 30 steekproef-punte op verligte hoofpaaie in stedelike gebiede geïdentifiseer. Hulle het die hoeveelheid beligting by elke punt gemeet en die blare van die bome ondersoek vir verskeie eienskappe, soos grootte, hardheid, waterinhoud, en die vlakke van voedingstowwe en chemiese verdediging. Altesaam 5 500 blare is getoets.
Die resultate het bevestig dat hoe meer verligting daar was, hoe harder was die blare. In gebiede met die helderste nagbeligting was die blare merkbaar harder en het geen tekens van insekte gewys wat aan hulle geknibbel het nie.
Navorsers glo dat bome wat aan kunsmatige lig blootgestel word, langer fotosintese kan ondergaan, wat die groei en verde-
digingsmeganismes van die blare beïnvloed. Hoewel bome met onbeskadigde blare visueel aantreklik mag lyk, kan dit ekologies skadelik wees. Blare sonder insekskade mag die biodiversiteit van insekte beïnvloed, wat die hele voedselketting kan ontwrig.
Zhang, ‘n wetenskaplike betrokke by die studie, het gewaarsku dat die afname in herbivorie, oftewel insekte wat aan plante eet, ‘n ekologiese kettingreaksie kan veroorsaak. Hierdie tendens kan tot wêreldwye ekologiese versteurings lei.