Deesdae is almal glo n narsis
Pasop om almal goedsmoeds as ‘n narsis te etiketteer. Die misbruik van die term kan verreikende gevolge hê en gevolglik die erns van die saak afwater.
Nie elkeen wat selfsugtig optree, manipuleer, jok, ‘n opgeblase ego het en “gaslight”, ly aan ‘n versteuring nie. Daar is ‘n verskil tussen iemand met ‘n Narsistiese Persoonlikheidsversteuring (NPV) en ‘n Narsistiese Persoonlikheidstyl.
Dr Ramani Durvasula, kliniese sielkundige en kenner op die gebied van narsisme verduidelik die kriteria wat deur die DSM-5 vereis word voordat ‘n NPV gediagnoseer kan word. Daar moet ‘n volgehoue gedragspatroon met minstens vyf uit nege kriteria teenwoordig wees voordat hierdie versteuring gediagnoseer kan word. Die 9 tekens (Akroniem SPECIAL ME) sluit in oordrewe selfagting, beheptheid met mag en sukses, selfgeregtigheid, meng slegs met mense wat belangrik/spesiaal is, ongereguleerde emosies en woedeuitbarstings, arrogansie, gebrek aan empatie, behoefte aan bewondering en intense jaloesie. ‘n Diagnose mag slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak word.
Dan is daar die Narsistiese Persoonlikheidstyl. Meeste mense wat as “narsiste” beskryf word, toon eerder narsistiese eienskappe. Hierdie persoonlikheidstyl is toksies en skaad verhoudings. Durvasula reken egter dat die term, narsis tog ‘n funksie het want dit is instrumenteel om gedrag te benoem, te verstaan en om komplekse en toksiese dinamika te navigeer. Dit gee taal aan die pynlike ervarings deur ‘gaslighting’, manipulasie, leuens, verontagsaming van grense, oneerlikheid, ontrouheid, die geheime lewens agter die sjarme, valse beskuldigings, beledigings, karakterskending, smeerveldtogte, verraad, dreigemente en beheer.
Oorgebruik van die woord, waarsku sy, kan egter werklike pyn in ‘wit geraas’ verander. Só verloor die term erns en betekenis en, dis ironies dat etikettering juis tipies is van die narsis. Daarom is dit belangrik om te onderskei en verantwoordelik te praat.
Ter afsluiting in ligter luim:
Why did the narcissist cross the road?
He thought it was a boundary.
TikTok video:
J.C. van der Merwe, ‘n gewilde Afrikaanse stem oor verhoudings, gee 11 tekens om voor uit te kyk.
Marika du Toit-van Heerden




