WAT KIES JY?
Elkeen van ons kan getuig van ’n traumatiese gebeurtenis in ons lewens. Dit is dalk nie so intens soos ’n ander persoon s’n nie, maar dit beteken nie dat jy nie trauma beleef het nie. Die impak van trauma verskil van mens tot mens. Soveel aspekte het ’n invloed hierop dat niemand die reg het om vir ’n ander te sê dat ’n traumatiese belewenis nie so erg was nie.
Edith Eger beskryf in haar boek The Choice die gevoel van trauma as volg: “A nearly constant feeling in my gut that something is wrong, or that something terrible is about to happen, the automatic fear responses in my body telling me to run away, to take cover, or to hide.”
Ons het elkeen ’n keuse oor hoe ons wil reageer oor die verlede: ons kan miserabel of hoopvol, depressief of gelukkig daaroor voel. Ons kan inderwaarheid kies om beheer te neem oor die negatiewe effek van trauma. Wanneer ons onsself nie toelaat om oor trauma soos verliese te rou nie, wonde te laat heelword en teleurstellings te oorkom nie, laat ons toe dat die negatiewe reaksie van trauma ons bly beheer in plaas daarvan dat ons die reaksie van trauma beheer.
Vryheid van daardie negatiewe effek lê juis daarin om die realiteit in die gesig te staar, maar die effek daarvan te beheer. Dit beteken ons moet die moed bymekaar skraap om stukkie vir stukkie die gevangenskap af te breek wat veroorsaak word deur ’n slagoffer te wees.
Die mees algemene diagnose van pasiënte is nie depressie of post-traumatiese stres nie, maar ’n honger … ’n honger na toestemming, aanvaarding, aandag en om geliefd te voel – onvoorwaardelik. ’n Honger na vryheid om die lewe te kan omarm, jouself werklik te ken en ’n lewe in volheid te geniet.
Maak vandag ’n keuse om met iemand te gesels. Jy het dalk hulp nodig om weg te breek van die negatiewe houvas wat jou verlede, teleurstellings en vrese op jou het; van die negatiewe woede en foute wat daaruit voortspruit en die aftakeling van berou en onoorkomelike verliese in jou lewe.
Ons word nie ’n slagoffer oor dit wat met ons gebeur nie, maar wanneer ons kies om vas te hou aan die feit dat ons ’n slagoffer was. So ontwikkel jy ’n denkpatroon van “slagoffer wees” en dit word ’n denkwyse wat nie verander kan word nie. Dit is selfblamerend, pessimisties, dit bly vassteek in die verlede, dit is onvergewensgesind en sonder enige gesonde beperkings of grense. Jy word jou eie tronkvoël.
Edith Eger sê: “There is nothing that makes my pain worse or better than yours. This kind of comparison can lead us to minimize or diminish our own suffering.”
Kom ek verduidelik. Daar is twee vroue. Een het ‘n dogter van 16 wat terminale kanker het en die ander een het ’n Cadillac geskenk gekry, maar dis in die verkeerde skakering geel. Albei hierdie vroue is getraumatiseerd.
Albei hierdie vroue is seergemaak omdat iets nie is wat hulle verwag het of wou hê nie. Hulle het albei probeer om ’n ooreenkoms te vind oor wat was en wat veronderstel was om te wees. Elke vrou se pyn was erg. Elkeen was vasgevang in ’n menslike drama.
Ons vind onsself in situasies wat ons nie voorsien het nie en waarop ons nie voorbereid is nie. Albei vroue, soos ons, het keuses oor hulle houding en ’n keuse wat hulle van slagoffers na oorwinnaars kan skuif – al verander hul omstandighede nie. Om ’n oorwinnaar te wees, iemand wat voluit wil leef, te midde van omstandighede, vra absolute aanvaarding van wat gebeur het en wat nou is.
Wanneer jy die keuse gemaak het om met hulp en begeleiding die negatiewe effek van trauma in jou lewe te konfronteer is jy reeds op die pad van oorwinning. Oorwinnaars vra nie “Waarom ek” nie, maar eerder “Wat nou?”.
Inligting verkry uit opsommings uit The Choice deur Edith Eger.