BESONDERSE BESOEK, BESONDERSE LAND
Ons almal soek ontvlugting gedurende grendeltyd. Dit is ’n heerlike, nostalgiese tydverdryf om na ou foto’s te kyk en weer na te dink aan iets buitengewoons wat jy ervaar het. In my geval was dit my twee besoeke aan Iran.
Die meeste mense hoor net die naam Iran en hulle dink dadelik aan die Amerikaanse president se gereelde afkraking en verdagmaking as hy oor Iran praat. Maar as jy daar gaan kuier, kom jy agter dat dit ’n land met die vriendelikste mense, ’n interessante geskiedenis en ’n besonderse bekoring is. Ek was in die gelukkige posisie dat my suster se man in ons ambassade daar was en ek saam met hulle na verskeie plekke in Iran kon reis.
Elke item in hul wonderlike markte is in Iran gemaak. Geen goedkoop items wat in Sjina vervaardig is nie en daarby is dit eeu-oue kunstenaarskap wat die Persiese matte, gedrukte kleedjies, erdeware en pragtig versierde borde en ander items voortbring. En oral word jy soos ’n koningin ontvang, want die negatiewe publisiteit veroorsaak dat relatief min buitelandse besoekers deur die land reis.
Nog ’n voordeel is dat niemand jou ooit bedreig of jou besittings wil steel nie omdat dit ’n Moslemland is. Ek en my suster was tydens my tweede besoek alleen na Esfahan en Shiraz en ons het nooit onveilig gevoel nie. Inteendeel, ons is oral met die grootste respek en gasvryheid behandel.
Die verkeer in hul groot stede soos Teheran en Esfahan is iets vreesliks en om ’n pad oor te steek was vir my vreesaanjaend omdat jy veronderstel is om net in die verkeer in te stap. My suster het ’n klassieke foto van my geneem wat vreesbevange vasgesteek het totdat ’n Iranese man my aan die arm kom neem en saam met my oor die besige straat gestap het. Die spreekwoord “He who hesitates, is lost” het my dikwels gemaan om net oor te stap.
Iran het ’n baie ou beskawing. Ons was aan die buitewyke van Shiraz na Persepolis (Takht-e Jamshid) en het ook daar koning Darius se graf gesien. As ’n mens aan Shiraz dink, dink jy aan rose. Wel, ook aan wyn, maar alkohol kry jy nie in Iran as Moslemland nie. Die droë, amper woestynklimaat, het my baie aan die Klein-Karoo laat dink waar ek ook die mooiste rose in my tuin gehad het. Die pragtigste blomme versier hul parke en hulle produseer ook veral granate, droëvrugte, pistachio’s en ander neute.
Van hul matte gepraat, selfs in die hotelkamers is daar oral die mooiste matte. Van die hotelle bring jou ontbyt na die kamer se kombuis en alles is vars en gesond. Hulle bak drie maal per dag hul plat brode sodat jy nooit ou brood hoef te koop nie. Ek het al saam met die werkers van die stad gewag vir die brode wat met ’n houtspaan uit die warm oond gehaal word en het amper my hande lelik verbrand. Die groenteverkoper van die winkel langs die bakkery het egter gou vir my ’n sakkie gegee om die brood mee vas te hou.
Daar is nog soveel om oor hierdie land te sê – hierdie vertelling sluit maar net ’n paar van my heerlike onthou-dinge in.