Die Swartrugmeeu – sommer net ‘n meeu?
Volgende keer as jy op die strand sit, en dan bo-oor die voëltjie hier naby jou kyk – want dis net nog ‘n seemeeu – kyk weer! Is dit dalk die Swartrugmeeu?
Die Swartrugmeeu is ‘n bekende gesig langs die kuslyne van die Suidelike Halfrond, insluitend Suid-Afrika. Hierdie groot seemeeu, is maklik uitkenbaar en speel ‘n belangrike rol in kusgebiede. Met sy swart vlerke en rug wat skerp afsteek teen sy wit kop en lyf, is die swartrugmeeu opvallend langs die kus. Sy geelgroen bene en helder geel snawel, met ‘n rooi kol naby die punt, maak hom nog makliker om te herken. Die rooi kol maak dit vir kuikens makliker om hul ouers te identifiseer wanneer hulle vir kos vra.
Swartrugmeeue is ware opportuniste. Hulle eet vis en weekdiere, maar sal ook enige kos wat mense weggooi vreet. Die meeu is bekend vir sy slim maniere en gebruik soms taktiek om kos te kry, soos om skulpe van hoogtes af te laat val sodat dit oopbreek.
In die broeiseisoen, wat in die lente begin, broei swartrugmeeue in kolonies op klipperige of plat kusgebiede. Hulle bou neste gevoer met gras, vere of takkies en lê gewoonlik twee tot drie eiers. Beide ouers speel ‘n aktiewe rol in die versorging van die eiers en die grootmaak van die kuikens.
Die swartrugmeeu is nie ‘n bedreigde spesie nie. Sy aanpasbaarheid en wye verspreiding beteken dat die spesie goed floreer, alhoewel hulle soms met ander meeuspesies vir kos moet kompeteer.
En noudat jy meer weet van die seemeeu, kyk nog bietjie nader. Het jy al ooit gesien daar hang soms ‘n druppel aan die seevoël se bek? Nee, hy huil nie, het nie hooikoors of verkoue nie. Volgens die boek Seabirds of Southern Africa, is daardie druppel die seemeeu se oplossing vir te veel sout in sy kos. Hy het kliertjies weerskante van sy kop wat die sout uit sy bloed onttrek en saam met “trane” afskei, wat deur sy neus uitloop en op sy bek eindig.
Sien, dis nie sommer net nóg ‘n seemeeu nie!