EEN TREE VORENTOE, TWEE TREË AGTERUIT
Die ontwikkeling van die wêreld waarin ons leef, is vinnger as wat enigeen van ons waarlik besef. Dít wat ’n dekade terug as onmoontlik en ekslusief beskou is, is nou moontlik en alledaags en vir almal beskore. Hierdie vooruitgang is fantasties en maak die wêreld waarin ons leef, ’n beter plek. Of doen dit?
Ek luister na ’n gesprek waar ’n jong volwassene die pad na sy eie huis telefonies aan iemand moet verduidelik. Die persoon kon geen straatnaam of baken gee waarvoor die persoon aan die ander kant moes uitkyk in die soeke na die adres nie, en ’n “location pin” moes toe die hopelose saak beredder. Dit het egter my aandag gevestig op hoe afhanklik ons van hulpmiddels geraak het vir selfs die mees eenvoudige take en dat vooruitgang ons eintlik stroop van basiese vaardighede. Ek self het lankal reeds verleer om telefoonnommers te memoriseer aangesien ek alle nommers op my foon stoor, en dan van dáár af skakel. Is jy, soos ek, afhanklik van die gestoorde nommers op jou selfoon om selfs geliefdes naby aan jou te kontak?
In die vinnig veranderende wêreld, is ek verseker pro-vooruitgang op elke gebied van die samelewing. Ek vra myself egter die vraag af: is die treë vooruit nie op die lang termyn eerder ’n tree agteruit nie? Tot watter mate bewerkstellig die moderne wêreld agteruitgang vir die mens?
Ons het meer gerief, maar minder tyd, meer kennis, maar minder oordeel, meer medisyne, maar minder welstand. Mense het meer kennis, maar minder wysheid, ons het meer kundiges, maar meer probleme, meer ontspanning, maar minder pret.
Natuurlik moet ons konstant poog om nuwe en beter maniere te vind om dinge te doen, maar hoe gemaak wanneer die mens meer en meer vaardighede en balans verloor en die positiewe onwikkeling jou op die lang termyn kniehalter?
Ek is van mening dat ons doelbewus daarna moet streef om bestaande vaardighede te behou, te verbeter en ook nuwe vaardighede aan te leer, ongeag ons ouderdom, maar dat ons parallel daarmee, in pas moet bly met ontwikkeling in die moderne wêreld. Elkeen moet doelbewus ingesteld wees om balans te handhaaf tussen die voordeel wat die moderne wêreld ons bied, en die prys waarteen die gerief of ontwikkeling kom. “Balance is not something you find; it is something you create” volgens Jana Kingsford. Waar die moderne wêreld moontlik meer jare by jou lewe mag voeg, bepaal jý hoeveel lewe by jou jare gevoeg word.
Wat is die prys wat jý betaal vir die vooruitgang wat ons lewens makliker maak? Wat gaan jý doen om die fyn balans te vind tussen vooruitgang en agteruitgang? Mag jy die pad loop, een tree vorentoe, twee treë verder…