MOMENTUM …

Vir ’n oomblik haak my gedagtegang by die woord “momentum” vas. Wees nie bevrees nie, ek gaan nie gesels oor polisse nie – ek laat dit vir die kundiges. Nee kyk, ek praat hier oor die tipe momentum wat met beweging gepaard gaan. Onwillekeurig wonder ek of sommige persoonlikheidstipes meer geneig is om tot beweging oor te gaan dan ander? Wat moet gebeur om individue aan die beweeg te kry? Watter tipe motivering lei tot ’n beweegrede? En so kan ’n mens seker maar aanhou spekuleer.

Wat wel waar is, is dat beweging lei tot momentum wat stukrag het – ’n gedagte vat pos, gevolg deur ’n oorgaan tot woorde of dade om by ’n eindresultaat uit te kom. Algaande is daar stappe wat volg op mekaar. Sinoniem met hoe die lewe daar uitsien: niks gebeur indien iemand nie die inisiatief neem en tot aksie oorgaan nie. Soms vind ’n inisiatief byval by mense en word hul beweeg om deel te word daarvan – of nie.

Die realiteit bly dat niks stilstaan nie. Vanselfsprekend is daar keuses wat ’n mens kan uitoefen om oor te gaan tot aksie. As jy dit wel doen, doen dit met positiwiteit, want op dié wyse sal jy die grootste sukses behaal.

So waar laat dit ons? Beweging beteken ’n tree, ’n taak, ’n doel, ’n betrokkenheid, ’n gewilligheid. Waar lê jy op die momentumspektrum in jou gemeenskap, jou gesinslewe en persoonlike lewe?

Momentum begets momentum and the best way to start is to start. Gil Penchina