MY PA, MEESTER CLIFFORD (CLIFFIE) JACOBS

Hulle het baie arm grootgeword. Sy pa, Izak, was ’n smous wat met sy donkiekar vrugte en lekkergoed verkoop het.

Daar was nie geld vir verdere studies nie, daarom het hy na st. 8 (Gr. 10) vir ’n wyle gaan werk om vir sy eie studies te betaal. Hy het hom as onderwyser by Söhnge Onderwyskollege te Worcester bekwaam. Hy wou graag verder in musiek studeer, en is toe na Battswood Onderwyskollege om hom daarin te spesialiseer. In die jare sestig het hy matriek geslaag en deur middel van afstandstudies sy BA-graad behaal, met Afrikaans-Nederlands as een van sy hoofvakke. Gedurende daardie tyd het hy by Groot-Brakrivier Primêr onderwys gegee waar hy ook later as Departementshoof aangestel was. Na 41 jaar het hy in 1985 as onderwyser afgetree.

Ek kan onthou dat my pa nog altyd “geteken” het. Kuns, musiek en fotografie was sy geliefkoosde tydverdrywe. Hy was vir jare ’n vryskutjoernalis vir verskeie koerante (veral Rapport) en was ’n uitmuntende sportfotograaf. Hy het sy eie foto’s in sy donkerkamer by die huis ontwikkel. Oor sy vermoë as rugbyafrigter is daar al baie geskryf.

Pa se “tekeninge” het later skilderye geword toe hy met verf begin “speel” het. Die sitkamer was sy kunsateljee. Ons moes maar so om die kwaste en verf beweeg. Die skilderye was klein, maar hy het dit met trots geraam en teen die sitkamermure gehang. Hy het foto’s van tonele geneem en dit dan geskilder. Hy was veral lief vir landelike tonele asook die bedrywighede by Mosselbaai-hawe. Seker omdat hy ook ’n kranige visserman was.

Pa het weer student geword deur hom as kunsstudent by Strydom en Jordaan se kunsgalery te George in te skryf. Die skilderstorie het ernstig begin word, maar dit was nie lank nie toe hoor ons dat hy nie meer student daar was nie, maar wel een van die persone wat lesse aangebied het. Hy het ook sy eie werke daar uitgestal en die aanvraag na sy skilderstukke het groter geword. Soveel so dat van sy werke in Kanada ’n draai gaan maak het.

Meester Cliffie, soos hy alom bekend was, het weinig sy skilderye verkoop. As iemand gesê het hulle hou van ’n sekere skildery, het daardie persoon dit sommer as geskenk gekry. Die meeste van sy skilderye pronk in familielede oor die hele land se huise.

Hy was my pa, my kollega, my geselsmaatjie maar die belangrikste, my mentor.

Meester Cliffie 13/9/1920-3/6/2011