’N ROEIKLUB VIR GROOT-BRAKRIVIER

,

Groot-Brakrivier is geseënd met een van die mooiste riviervalleie, maar dit is totaal onderbenut. As dit sensitief hanteer word, kan die rivier tot groot voordeel van inwoners en besoekers benut word. Daar is  talle enkellopende mense in die area wat iets soek om te doen oor naweke. Party het ook ’n kajak of kano in die garage wat nooit gebruik word nie omdat dit te veel moeite is om dit in die kar te laai om op die rivier te gaan roei. Met die hulp van Mosselbaai Munisipaliteit kan ’n roeiklub dié twee aspekte bymekaartrek.

Om die idee van ’n roeiklub bekend te stel en met die hulp van ’n plaaslike inwoner wat ’n aantal kajakke besit, is daar op 4 Februarie 2024 ’n baie suksesvolle roeidag gehou langs die rivier oorkant die polisiestasie. Die dag is puik bygewoon en 30 mense het hul name op ’n  lys vir ’n toekomstige klub geplaas. Van vroeg die oggend kon hulle beurte maak om met die kajakke op die rivier te roei. Tussendeur het hulle onder die koeltebome gekuier en die dag is afgesluit met ’n volledige ete wat deur ’n plaaslike kossleepwa verskaf is.

Nog twee roeidae word in die vooruitsig gestel om meer mense aan die roeiklub bekend te stel. Een so roeidag word vir vroegaand op 2 Maart beplan met ligte op die kajakke. Die ander een sal deur die dag op 23 Maart geskied. Tydens albei die geleenthede sal dieselfde kossleepwa gereël word om  vir die dag verversings en drinkgoed te verskaf. Na afloop van die geleenthede sal ’n formele roeiklub gestig word.

Die munisipaliteit sal genader word om aan die nuut gestigde roeiklub ’n “container” te verskaf en te plaas op ’n geskikte plek by die rivier. Dié lede wat kano’s of kajakke ens. het, kan dit dan daarin stoor. Die klub beoog ook om sy eie en/of gehuurde kano’s of kajakke daarin te stoor vir die gebruik van die lede, wat beteken dat ’n lid nie sy/haar eie kajak hoef te besit nie. Meer mense sal ook op die wyse van die rivier kan gebruik maak, want die klub teen die rivier skakel die gesukkel uit om jou eie kajak heen en weer te karwei. Met so ’n klub kan meer eendag-geleenthede op die rivier ook gereël word om die breër gemeenskap te betrek.

Om by die inisiatief betrokke te raak, kontak of WhatsApp gerus vir Guido op 076 155 2543.