STAPROETES TE KIES EN TE KEUR!
Die Tuinroete, met sy matige warm somers en gematigde tot verfrissend koel winters, is een van die gewildste bestemmings in die land. Dit is ook besonder gewild onder stappers omdat daar so ’n groot verskeidenheid staproetes in die gebied is.
Vier van die dagstaproetes in die Tuinroete Nasionale Park het reeds so lank terug as 2018 groenvlagstatus van die stap-organisasie van Suid-Afrika (HOSA) verkry. Die staproetes is die Half-Collared Kingfisher-staproete in Wildernis, die Duine Molrot-staproete by Sedgefield, die Woodville Groot Boom-staproete buite Hoekwil en die Kringe in ’n Bos-staproete naby Rheenendal.
Die Woodville Groot Boom-staproete bestaan uit ’n kort roete en ’n langer roete. Die langer roete is onlangs vir stappers oopgestel en dit begin by die Sanparke-kantoor waar jy ’n permit moet kry. Die staproete val onder die beheer van Sanparke en daar is ’n geringe toegangsfooi betaalbaar. Wild Card-houers het gratis toegang tot die gebied. Volg dan die duidelik gemerkte bospaadjie verby die reuse Outeniqua-geelhoutboom (waarvandaan die staproete sy naam verkry het) en volg die kronkelpaadjie dan verder deur die natuurlike woud en verby aangeplante dennebome. Stappers stap dan met ’n stywe klim bo die woud uit. Dié deel van die staproete bied ’n asemrowende uitsig oor die woud, die landskap daaronder en die see. Die roete sirkel dan weer terug tot in die woud en verby ’n pragtige waterstroom. Hierdie sirkelroete is ongeveer 9 km lank. Stappers mag dalk besluit om na die tyd ’n vleisie te braai by een van die pragtige braaiplekke onder die bome in die woud.
Die Half-Collared Kingfisher-staproete in Wildernis is dalk beter bekend as die Brownhooded Kingfisher-staproete naby Hoekwil, maar laasgenoemde is ’n moet. Die staproete is asemrowend mooi. Dit volg die Duiwerivier en stappers kruis die rivier aanvanklik met behulp van ’n houtbruggie en daarna kruis jy die rivier nog ’n hele paar keer. Die rivier vloei nie diep nie en kan droogvoets oorgesteek word mits dit nie onlangs gereën het nie. Die roete is ongeveer 5 km heen-en weer en eindig by ’n pragtige poel en waterval. Daar is geen toegangsbeheer by die beginpunt van die staproete nie, maar permitte word benodig en kan by die Sanparke se Eb and Flow-ruskamp uitgeneem word.