UNIVERSITY OF THE THIRD AGE

’n Nuwe organisasie vir afgetredenes en semi-afgetredenes, U3A (University of the Third Age) Glentana tot Dana, het in Julie 2023 in die groter Mosselbaai begin. Die afskop het saamgeval met ’n praatjie oor walvisse deur Nico Booysen, navorser van die Haainavorsingeenheid in Mosselbaai, en was net betyds om die walvisse in Mosselbaai te verwelkom. Die eerste byeenkoms is deur 135 persone bygewoon.

Die stigting van die tak het gevolg na verskillende persone van die groter Mosselbaai-omgewing bymekaar gekom en besef het dat ’n plaaslike U3A-tak ’n leemte kan vul.

Die praatjies en aktiwiteite is daarop gemik om interessante en leersame onderwerpe te dek, lede te stimuleer en hul kennis te verbreed. Dit gebeur in maandelikse groot groepe en ook kleiner belangegroepe.

Kleiner belangstellingsgroepe sluit onder andere voëlkyk, fotografie, aktuele sake, stap en uitstappies aan. Daar word gepoog dat lede eerder by bestaande groepe in die gemeenskap inskakel. U3A-groepe vir stap, aktuele sake en uitstappies word tans gestig en nog meer word ondersoek.

Die U3A skep ’n geleentheid waar nuwe intrekkers in die groter Mosselbaai vinnig blootgestel kan word aan die omgewing en sosiale interaksie verkry met persone met gemeenskaplike behoeftes.

U3A Glentana tot Dana volg die demografie van die groter afgetrede gemeenskap in Mosselbaai  en het ’n meer Afrikaanssprekende karakter, alhoewel praatjies aangebied word in die taal waarin die sprekers gemaklik is.

Die tak is gebaseer op die internasionale beweging, University of the Third Age. Die derde era verwys na die lewensfase waar persone afgetree is. Die beweging het sy ontstaan in 1973 in Toulouse, Frankryk, gehad waar afgetrede persone lesings gratis kon bywoon by die universiteit.  Die konsep het wêreldwyd in verskillende vorms posgevat en ’n groot getal mense is hierby betrokke. In Suid-Afrika bestaan daar tans 30 takke.

U3A Glentana tot Dana se maandelikse praatjies vind gewoonlik die derde Donderdagoggend van elke maand plaas en meestal in Klein-Brakrivier. Die vergaderings van 2023 het praktiese kubersekuriteit, ’n gesondheidsfokus, ’n besoek van die NSRI, ’n reisvertelling oor die klipmannetjies van Kaokoland en plaaslike tuinvoëls ingesluit. In Februarie het ons Pinnacle Point se mosaïektonnelprojek besoek en die Maart-vergadering fokus op stories deur foto’s.

In die Tuinroete bestaan daar takke in Knysna, George/Wildernis, Plettenbergbaai en Stilbaai. Enige persoon wat ’n lid wil word of ’n praatjie wil bywoon, kan ons kontak by U3A.glentana.tot.dana@gmail.com of vir Etienne van Niekerk skakel by 082 800 0440. Meer inligting oor U3A kan by https://u3a.org.za/ verkry word.