VANDAG IS NIE JOU OUDAG NIE!

Februarie 2024 se The Post was uitstekend. Ek hoop almal in ons omgewing wat bevoorreg is om hierdie tydskrif “gratis en verniet” soos my ouma sou sê, te ontvang, sien dit met dankbaarheid raak. Iemand skenk hulle tyd en energie en vaardighede om adverteerders te kry, stories bymekaar te maak, dit keurig uit te lê, te druk en te versprei.

Jennifer Alsever se artikel oor Mindfulness is toevallig, of dalk nie: dis ook my lewensuitkyk wat ek elke jaar beter probeer bemeester. In Afrikaans kan dit in die breë omskryf word om oplettend, opmerksaam of indagtig te wees. Met ander woorde om dinge raak te sien. Daar is ook ’n artikel oor Gratitude, dankbaarheid in Afrikaans. Nog ’n artikel wat gaan daaroor om die regte vrae te vra: “As jy middernag sou doodgaan, wat sal jy 11h45 doen?” Dit is iets wat elkeen onmiddellik vir hom-/haarself moet antwoord. Dan is daar Madelein Campher se uitstekende artikel “Wie nie vra nie …” En so kan ek aangaan, artikels oor kreatiwiteit, die helende hand van die natuur, die see as terapie. Ons is bevoorreg, sien dit raak.

Mindfulness is nie om jou vrou se nuwe haarstyl raak te sien nie (wel, dit sal ook goed wees!), maar dit is meer soos my sus dit verstaan het: “Om hier en nou te wees.”

Ek hoef nie veel wyer as my eie familietjie en paar mense rondom my te kyk om verskillende lewensuitkyke raak te sien nie. Daar is iemand wat sê hy voel soos ’n tiener met 50-jaar ervaring en daar is iemand jonger wat homself as “op sy oudag” beleef. Daar is my ma wat saam met my deur Bali getoer het en stap vir stap, hou vir hou, alles saam met my gedoen het. Ek ken jonger mense wat dit nie eens sal oorweeg nie. Ek ken ’n weduwee wat quad bike gaan ry, waar ander hulself net eenvoudig as “te oud” hiervoor sou sien. Selfs te oud om te lewe. Wat dag na dag geïsoleerd in hulle eie plekkie sit en wag dat die tyd moet verbygaan, sodat hulle kan sterf en hul kinders geld kan erf. Dit maak nou nie saak wie jy is of wat jy glo nie, hierdie tydperk op aarde is binne ’n oomblik verby of dit kan jare aansleur. Jy kan die beste van elke oomblik maak of jy kan jou hande in die lug gooi en jou “oudag” uitrek vir jare.

’n Groot inspirasie vir my in hierdie tyd is my enigste en geliefde suster. Iemand wat in ’n tydperk waar ander “aftrede” beplan, met mense die helfte van haar ouderdom kon meeding om in die middel van die Tsitsikammawoud, afgesonder en baie eenvoudig, te gaan woon – in ’n Wendy house, sonder krag, met ’n badkamer 20 m daarvandaan. Wat ’n werk gaan doen wat volgens die beskrywing baie fisies en uitdagend is, beslis nie vir die faint-hearted nie. Waarvan die ergste nie in die son handearbeid doen, swaar goed dra of kruiwaens stoot is nie. Ses dae ’n week, minimum loon. Hoekom? Omdat dit haar droomwerk is, omdat haar siel (in haar eie woorde) mense en diere wil help. Omdat sy sê, dit haar “kinderlik opgewonde” maak.

En dit is hoe mens moet leef terwyl jy leef, want jou oudag is nie gekoppel aan jou geboortedatum nie. Sela.