OASES OP DIE LANG PAD

Ek het die voorreg om gereeld tussen die Tuinroete en die Karoo te reis – iets waarna ek gewoonlik baie uitsien. Van die natuurskoon van die Tuinroete met al die inheemse plantegroei en indrukwekkende bergpasse, tot die oop, uitgestrekte landskappe met kort grasse en karoobossies en plat koppe … wêrelde uitmekaar, met elk ’n besondere bekoring en skoonheid.

Wat natuurlik die pad korter en lekkerder maak, is die wonderlike padstalle wat met intervalle oor die roete gestrooi is. Klein juwele, oases van lafenis vir al die sintuie. Elke plekkie het sy eie unieke karakter en versameling lekkertes en bederfies om die reisiger te verlei om te stop en ’n blaaskans te neem. Rye en rye bottels met ingelegde groente en vrugte, olywe, familieresepsouse, strope en gebak, asook allerlei kruierome en salfies wat van ou boererate stam, laat jou kop draai om te moet kies. Menige van hierdie oases bedien heerlike kontreituisgebak wat loshande enige vulstasie-wegneemete se hand in die as sal slaan. Roosterkoeke met of sonder watertandvulsels, tuisgemaakte wilds- of lamspasteie met baie botter gemaak en blinkbruin gebak, appeltert en melktert soos ons oumas dit gemaak het. Die gasvryheid van die mense wat hier werk, kan net so bekoorlik wees en is glad nie gejaag en geforseer nie. Alles werk saam om sonder moeite die kort besoekie op die lang reis iets besonders te maak.

Ek het grootgeword in ’n gesin waar ons gedurende vakansies die land deurkruis het. Ons het die see, die Kaap, die wynlande, die Wildtuin, die Hoëveld en Laeveld, die Bosveld en alles tussenin besoek. Al wat ’n monument of museum, erfenisgebied of besienswaardigheid is, is deur die jare op ons reisplanne ingesluit. In daardie jare was die padkos ’n groot deel van die reis aangesien, anders as vandag, daar nie soveel geriefswinkels en kitskosrestaurante op die pad was nie. Ons het egter steeds graag by padstalletjies gestop om van die kontrei se vrugte of droëvrugte te koop wat ons so in die ry geëet het. Die pad na, en van ons bestemming, was altyd deel van die reis en alhoewel die roete soms lank was, was die reis draaglik en aangenaam.

Ons lewenspad kan partykeer ’n hoofweg wees met kitskosrestaurante en geriefswinkels wat ons help om vinniger en makliker van punt A na punt B te kom. Ander kere lê daar weer ’n lang, eentonige pad voor ons uitgestrek waarteen ons opsien, maar ons nie kan vermy nie. Waaroor ons wel beheer het, is hoe ons kies om dié pad aan te pak. Gaan ons stop by plekke van lafenis op die pad wat anders lank en eentonig voor ons uitgestrek lê, of kies om eerder verby te ry en onsself die breek, die blaaskans te gun?

Soms het ons min of geen beheer oor die pad waarop die lewe ons noodgedwonge neem nie. Ons kan egter kies om onsself ’n ruskans te gun deur die mooi en anderse wat wel periodiek op die roete voorkom, raak te sien, te geniet en daaruit te put wat nodig is om die pad vorentoe aan te durf. Net dalk word hierdie stoppe wonderlike herinneringe wat die lang reis nie net draaglik maak nie, maar in iets kosbaar omtower …