SPOOKLOOP IN GRENDELTYD

Mosselbaai se strate skep tans die perfekte agtergrond vir opportunistiese spooksoekers wat wil terugstap na die beginjare van dié Suid-Kaapse dorp. Dis einde Junie, midwinter-ysig en gekontroleerde staptoere word tydens Fase 3 van die inperkingstyd toegelaat.

Ons lig die stram grendeljuk effens deur saam met Leon van der Walt, ’n geregistreerde gids, deur die doodstil strate van die bekende vakansiedorpie te beweeg. Verhale van stinkende strate, pesuitbrake en gruweldade deur kleurryke karakters klink ligjare ver van die netjiese dorp soos dit tans daar uitsien. Tydens dié spookloop van meer as twee uur ontvou die begingeskiedenis, argitektuur en sosiale lewe tot laat in die 19de eeu voor jou en voel plek-plek so opwindend soos die draaiboek van ’n volbloed- John Wayne fliek. Historiese feite (soos dat die eerste Europeër, Bartolomeu Dias, reeds in 1488, 164 jaar voor Jan van Riebeeck aan die Kaap, hier voet aan wal gesit het), word deurentyd met toepaslike interessante brokkies afgewissel.

Die bymekaarkomplek vir die spookloop is vanaf die historiese terrein by die Dias Museum-kompleks. Dit is digby die bekende Poskantoorboom waar nog ’n Portugese seevaarder, Pêro de Ataíde, in 1500 ’n waarskuwingsbriefie in ’n skoen opgehang het. Wonderbaarlik ontdek João da Nova in Julie 1501 die hangende boodskap naby die varswaterfontein. ’n Mens kan jou nouliks indink dat Mosselbaai destyds al op die wêreld se seevaartroetes aangeteken was.

PANDEMIES EN PESUITBRAKE

Met die COVID-19-pandemie wat tans wêreldwyd heers, het terugwysings na pesuitbrake en pandemies uit die verre verlede voorwaar nuwe betekenis tydens die spookloop gekry. Die rol van die gedrukte media was toentertyd van kardinale belang. Inwoners is soos vandag op hoogte gehou van nuwe ontwikkelings of enige nuus soos oorlog of siektes wat êrens in die Kolonie uitgebreek het. So het die Mossel Bay Advertiser reeds in 1882 verslag gedoen van die SS Drummond Castle wat in Kaapstad geland het met positiewe gevalle van die gevreesde pokkepandemie. Mosselbaai het egter die pokke vrygespring deur uitstekende voorbereiding te tref. Daar is onder andere onmiddellik ’n  klein afsonderingshuisie as proaktiewe maatreël gebou en rooi vlae het voor die geboutjie of Lazaretto (melaats in Spaans) gewapper om die boodskap van afsondering te versterk.

In 1901 het builepes via die rotte in die perdevoer (wat vanaf Indië en Suid-Amerka vir die Engelse se perde in die Boereoorlog verskeep was), in die Kolonie uitgebreek. Op 12 Februarie verskyn daar ’n berig in die Mossel Bay Advertiser dat dooie rotte van 6:30 tot 8 uur soggens by die munsipaliteit ingehandig kon word. Die eerste slagoffer in Mosselbaai is in November 1901 aangeteken. Die Advertiser, met Joseph Powrie as redakteur, het uitstekend boek gehou van die situasie en daar is berig dat daar vanaf Februarie tot Mei 1901 nie minder as 4 050 rotte verbrand is nie. Ebenezer Powrie, broer van Joseph, was apteker en stadsvader en het beslis besef watter gevare builepes vir almal inhou. Powrie se Powrie’s Chemist Shop het ook in 1880 diens gedoen as die eerste Poskantoor.

SPOOK- EN ANDER SWENDELARYSTORIES

Dis ’n kuns om historiese feite met sappige, soms vergesogde brokkies te verlewendig. ’n Grafstil aand en swakverligte nou dwarsstraatjies met verlate geboue is tans die perfekte dekor vir dié rillerige spook-pretloop. En so begin ons gids met sy eerste spookstorie …

Aan die einde van die stap, voor Urk-huis in Kerkstraat 12, wat tipies van Hollandse argitektuur was, hoop jy dat die spoke van Mosselbaai tog net nie nóú hul opwagting moet maak nie. Ons groepie is so gemasker en gepantser en in die grou beligte nag is dit nogals moeilik om te onderskei wie ’n spook of spookloper is!