Van die ‘brak tot in Bangkok
Ons dink met harte vol nostalgie terug aan ‘n klein dorpie by die see wat tot onlangs ons tuiste was. Lang wandelings langs die strand, ‘n pizza en bier oorkant die strandmeer, vis en skyfies, “boogie”-bord saam met brawe, nie-meer-so-jonk vriendinne, die warmte van goeie vriende wat soos familie geword het. Grootbrak het diep in ons harte gekruip.
Op die rype ouderdom van amper 70 het avontuurlus die oorhand gekry. Ons verkoop amper elke ding wat ons besit. Na jare se opgaar en kosbaarhede versamel, pas alles in 21 bokse wat verskeep word na ons nuwe bestemming – Bangkok, die woelige stad wat nooit slaap nie.
Die groot sprong is tegelyk opwindend en skrikwekkend. Die rustige roetine waaraan ons gewoond was, word vervang met die onophoudelike simfonie van stedelike chaos, die kakofonie van verkeer, neonligte wat flits, wolkekrabbers en hitte. Hier is mense uit elke uithoek van die wêreld, elkeen met ‘n glimlag en ‘n eie rede hoekom hulle geboorteland agtergelaat is sodat ‘n nuwe lewe hier gebou kan word.
Bangkok is ‘n stad propvol kultuur en diversiteit, energiek en vol geleenthede. ‘n Mengsel van ou-wêreldse sjarme en moderne dinamiek is soos ‘n tapisserie verweef. Alles is betowerend: van die majestueuse prag van antieke tempels tot die aansteeklike energie van nagmarkte.
Vinnig-vinnig raak ons versot op die Thaise straatkos wat in elke stegie deur vrolike gesigte verkoop word. Klein rooi rissies verloor hulle skrikmaak en ons bestel kos “phed tamada” – warm! Net soos die Thai mense dit eet. Ons koop vars vleis en groente by die mark om die hoek – ‘n Thai spyskaart is goed vir enige begroting.
Ons stap baie en wanneer iets te vêr is, is daar ‘n tuk-tuk, bus of trein om die pad korter te maak. Die prys van petrol is irrelevant. Laataand drentel ons sorgeloos deur die strate sonder ‘n sweempie vrees of agterdog. As die beton-oerwoud oorweldigend raak, gaan draf ons in Lumpini Park. Die lowergroen bome, kleurvolle plante en waterkanale se hele energie doen wondere. En soms breek ons weg na ‘n ongerepte eiland waar tyd vergete raak.
Hierdie nuwe wêreld het ons gestroop van elke ding wat ons eens gedink het belangrik was. Ten spyte van alles wat so anders is as dít waaraan ons gewoond was, bly daar een konstante: liefde en vriendskap wat enige afstand oorbrug.