Editorial July

Wintermaande gaan dikwels gepaard met klemverskuiwings, eetpatrone wat verander, opsoek van sonplekkies in die huis, kaggelvure, vroeër inkruip saans, groter dissipline wanneer dit kom by oefening, meer gedagtetyd… Dit is reeds tydens een Saterdagoggend se strandstap met twee vriendinne, rugsakkie vol lekker peuselhappies, koffie in die warm bottel, min woorde, voetafdrukke in die nat sand, dat welvaart by my opkom.

Na ʼn uitdagende klouter oor rotse, vind ons die perfekte rusplek, hoë groen hange agter ons, kaas- en -ham manna in die hand, die branders wat rol en speels teen die rotse breek. My gedagte van “”ek is welaf””, deel ek hardop met hulle wat kies om die woorde te hoor en omdat hul my ken en verstaan binne die konteks van hoe ek en my Moeder altyd in oomblikke soos hierdie dit teenoor mekaar bely het. Welaf.

’n Woord wat dikwels gemeet word in bankstate, eiendomme en besittings. Tog het ek oor tyd geleer dat ware welvaart selde iets is wat in syfers vasgevang kan word. Dit lê eerder opgesluit in die manier waarop ons kies om die lewe te benader en deur watter lens ons kyk en leef. Nie in wat ons besit nie, maar in wat ons mettertyd leer waardeer.

Om welgesteld te wees, is om op ’n winter fietsry- oggend die warmte van die son op my rug te voel. Dit is om tyd te hê vir ’n gesprek wat nie gehaas word nie, om saam te lag om ’n etenstafel, of om in stilte dankbaar te wees vir wat reeds meer as genoeg is.

Voorspoedig wees beteken nie dat die lewe sonder uitdagings is nie. Dit beteken eerder dat, te midde van onsekerheid, ons steeds rede vind om hoopvol te bly; dat ons die moed het om bedagsaam en sagkens om te gaan met jouself en ander, die wysheid om dankbaar te leef, en die insig om te verstaan dat die kosbaarste dinge in die lewe nooit gekoop kan word nie.

Welvaart lê nie buite jouself nie, jy vind dit in jouself en deel dit dan na buite