ILNE FOURIE BRING STORIES TOT LEWE BY MUSEFEES

Ilne Fourie is ’n bekroonde skrywer, aktrise en stemkunstenaar wat met haar besondere kombinasie van humor, emosie en oorspronklike storievertelling ’n sterk merk op die Suid-Afrikaanse kunstebedryf gemaak het. Van radiodramas en televisiereekse tot jeugteater en eenvrouvertonings: haar werk verras, vermaak en laat gehore dikwels met nuwe oë na die alledaagse lewe kyk.

Fourie skep jaarliks nuwe tekste vir kunstefeeste en landswye toneelkompetisies en is betrokke by projekte soos ATKV  Tienertoneel, Digitoneel en Tjokkertoneel. Haar jeugdrama Ken jy vir Dewie het Kanna-benoemings ontvang, terwyl sy in 2025 met die Silwervaring-wisseltrofee vir Beste Nuutgeskrewe Teks bekroon is vir Die dag toe Willie Wepener skoolhoof geword het.

Haar veelsydigheid strek veel verder as die verhoog. Sy is ’n bekende stem in Turkse telenovelas op e.tv, het in die Showmax-reeks Wyfie verskyn en is medeskrywer van die kykNET-komediereeks Pronk Primêr. As bekroonde radiodramaskrywer vir RSG verstaan sy ook hoe om karakters, spanning en klank saam te snoer om ’n verhaal sonder visuele hulpmiddels tot lewe te bring.

Ilne Fourie vorm vanjaar ’n belangrike deel van die Musefees-program en feesgangers sal verskeie geleenthede kry om haar kreatiewe wêreld te ontdek. Tydens die werksessie Skep & Skryf Radiodrama deel sy haar kennis oor hoe dialoog, klank, karakters en spanning saamwerk om luisteraars vasgenael te hou. Die sessie bied ook praktiese leiding aan mense wat graag hul eie radiodramas wil skryf.

Jaco Spies van die ATKV sal tydens ’n ontspanne Rusbankkuier met haar gesels. Hier sal Ilne meer vertel oor haar kreatiewe reis, die stories agter haar werk en haar liefde vir die Afrikaanse kunste. Dit bied feesgangers die geleentheid om die mens agter die tekste en verhoogkarakters beter te leer ken.

Op die verhoog kan gehore uitsien na Mart Marais staan op, haar nuutste eenvrouvertoning en ’n skreeusnaakse swartkomedie oor ’n vrou wat selfs ná haar dood nie rus gegun word nie. Wanneer Mart se suinige suster ’n goedkoop begrafnisondernemer gebruik, ontspoor haar afskeid op ’n manier wat niemand kon voorsien nie.

Met ’n onheilige 80’s-perm, ’n blokfluit-huldeblyk, begrafnisbroodjies en ’n kisrok vol blinkertjies, verander Mart se begrafnis in ’n nadoodse nagmerrie. Die produksie kyk met skerp humor na familieverhoudings, goedkoop keuses en die vreemde dinge wat mense doen wanneer hulle probeer afskeid neem.

Fourie se gewilde produksie Verkleurvroutjie vorm ook deel van die feesaanbod. In hierdie energieke eenvrouvertoning word komedie, drama, musiek en verskillende genres saamgevoeg in ’n kleurvolle teaterervaring.

Met haar skerp waarnemingsvermoë en liefde vir mense verander Fourie selfs die vreemdste situasies in stories waarin gehore hulself kan herken. Haar betrokkenheid by Musefees is ’n viering van oorspronklike Afrikaanse skryfwerk, teater en die kuns om ’n goeie verhaal te vertel.

Besoek die Musefees-webwerf om meer oor Ilne Fourie se vertonings, gesprekke en werksessies te lees en al die tye en besprekingsbesonderhede te vind. Ilne se optredes is maar net ’n deel van die talle wonderlike geleenthede wat vanjaar op feesgangers wag.