ALKOHOLIESE EERSTES!
Sedert die mens fermentasie sowat 7 000 jaar gelede in Mesopotamië (Irak) ontdek het, was daar baie alkoholiese eerstes. Suid-Afrika was ’n betreklike laatkommer, maar sy produsente (en dalk verbruikers ook!) het die verlore tyd gou ingehaal.
Die mensdom se eerste bekende wette, wat selfs vroeër is as die Tien Gebooie, was onder meer oor reëls oor drinkplekke in Babilonië in ongeveer 1770 vC. Die mens se eerste kontak met alkohol moes gefermenteerde vrugte of heuning gewees het.
Oorblyfsels is gevind tydens die opgrawing van ’n Neolitiese vestiging in die moderne Iran wat wys dat die mense teen 5000 vC al geleer het hoe om wyn kunsmatig te fermenteer.
Die basiese beginsels van wynmaak het onverandered gebly tot sowat 1688, toe Dom Pierre Pérignon, ’n monnik by Hautvillers-abdy in Frankryk, die eerste sjampanje gemaak het. Pérignon was ’n gerekende wynmaker wat aanvanklik probeer het om die tweede fermentasie te keer wat deur die weer teweeg gebring is, maar het dit later tot sy voordeel gebruik. Die tweede fermentasie het plaasgevind nadat die bottels verseël is, dus is die koolsuurgas in die wyn behou, wat die borrels veroorsaak het. Pérignon was die eerste wat die voordele hiervan ingesien het. Hy het sterker Engelse bottels en Spaanse kurke gebruik om ’n vonkelwyn te maak wat volgens hom soos die sterre geproe het.
Na fermentering was die volgende groot stap distillering, wat aan Wes-Europa uit die Midde-Ooste in die 6de-7de eeu nC bekendgestel is. Brandewyn was waarskynlik die eerste gedistilleerde drank (uit druiwe) en sedertdien is spiritualieë gedistilleer uit wyn, graan, suikkerriet, aartappels en ander bronne. Een van die gewildste dranke is whisky, wat eeue lank van graan in Ierland en Skotland gedistilleer is. Whisky beteken “water van lewe”en 18de eeuse Skotse skrywer James Hogg was seker dat dit tot die ewige lewe sou lei: “As iemand net daarin kon slaag om die presiese verhouding uit te werk wat ’n mens elke dag moet drink, en daarby hou, is ek doodseker dat hy miskien vir ewig sal lewe, sonder om dood te gaan, en dat dokters en kerkhowe uit die mode sou gaan.”
Die oorsprong van SA se wynbedryf strek ver terug – direk na die leier van die eerste Hollandse nedersetters. Net meer as ’n maand nadat Jan van Riebeeck voet aan wal in Tafelbaai gesit het (April 1652) het hy ’n boodskap na Nederland gestuur om die Here XVII te versoek om druiwestokke te stuur wat net so goed op die plaaslike heuwels as in Spanje of Frankryk sou aard. In 1655 het hy die eerste wingerdstokke in die Kompanjietuin geplant en teen 1687 het sowat 400 000 wingerdstokke in die Constantia-vallei en die wynlandstreek gegroei.
Later het brandewyn en gefortifiseerde wyn hul verskyning gemaak en sterk drank soos mampoer, withond en witblits is tuis gedistilleer uit druiwe, perskes, aartappels, suikerriet en wilde bessies.
Die brou van bier (dit dateer terug tot minstens 5 500 jaar gelede), was ’n lewendige tuisbedryf van die vroegste setlaarsdae af. Trouens, die hoë vitamien-inhoud het dit ’n waardevolle deel van die koloniale dieet gemaak, veral vir matrose op die seeroetes tussen Nederland en Indië. Van Riebeeck het voorkeur aan die kweek van gort gegee en die eerste bier het in Oktober 1658 begin vloei.
Die Boek van Eerstes, saamgestel deur I Harrison en P Joyce, Jonathan Ball Uitgewers, 2005.