Delft: ‘n stukkie Hollandse blou

Meeste Suid-Afrikaners verbind die Nederlandse dorpie Delft met blou porseleinware. Hier is ‘n paar interessante brokkies oor hierdie geskiedkundige plek.

Alle Hollanders is Nederlands, maar nie alle Nederlanders is Hollands nie.

Heelparty mense dink Hollands en Nederlands is dieselfde woord wat inwoners van Nederland beskryf. Noord-Holland en Suid-Holland is twee van twaalf provinsies in Nederland. Delft is geleë tussen Rotterdam en Den Haag in Suid-Holland.

Johannes Vermeer was lewenslank ‘n inwoner van Delft.

Johannes Vermeer (1632 – 1675) is veral bekend vir sy skildery, Meisje met de parel, wat selfs Hollywood se rolprentmakers inspireer het. Scarlett Johannson en Colin Firth het in 2003 in die gelyknamige rolprent verskyn.

Vermeer is in Delft gebore, en hy het sy hele lewe daar gebly en gewerk. Van die geskatte 50 skilderye wat hy in sy leeftyd geverf het, is nie een meer oor in Delft nie.  Die 37 van hulle wat nog bestaan, is oor die wêreld heen versprei, vanaf die Louvre tot in die Rijksmuseum.

Die Delftsblou glasuur is eintlik swart!

Delftsblou het in die laat 16de eeu ontstaan as ‘n alternatief vir die duur blou en wit Chinese porselein. Anders as Chinese porselein, word Delftsblou nie van Chinese klei gemaak nie, maar van verskillende soort klei wat sorgvuldig geverf en geglasuur is. Eers nadat die porselein teen meer as 1 000°C gebak word, verander die ontwerpe in die kenmerkende Delftsblou.

Die mikroskoop (en mikrobiologie) se oorsprong is in Delft.

Antonie van Leeuwenhoek (1632 – 1723) het in die Delftse tekstielbedryf gewerk toe hy in 1648 vir die eerste keer ‘n vergrootglas gebruik het om die kwaliteit van die weefwerk en drade van materiaal te bestudeer.

Leeuwenhoek kon onder meer rooibloedselle, bakterieë, en protosoë sien – iets wat nooit voorheen moontlik was nie. Sonder enige wetenskaplike agtergrond, het hierdie linne-handelaar meer as 500 mikroskope in sy leeftyd vervaardig.

Lede van die Nederlandse koninklike familie word almal in Delft se Nieuwe Kerk begrawe.

Die tradisie het begin toe Prins Willem van Oranje, in Nederland bekend as die Vader van die Vaderland, in die Nieuwe Kerk in Delft begrawe is na sy sluipmoord in 1584.  (Grafsteen in foto onder) Sedert 1869 is dit onwettig om enigiemand in ‘n kerk in Nederland te begrawe, hoofsaaklik weens higiëniese redes.

Die enigste uitsondering op hierdie wet, is vir lede van die Nederlandse koninklike familie. As die grootte van die koninklike grafkelder ‘n aanduiding is, gaan hierdie tradisie nog ‘n rukkie bly!

Delft het sy eie skewe toring.

Die 75 meter hoë toring, met die bynaam Skewe Jan, is maklik herkenbaar aan sy skuins helling, ongeveer twee meter vanaf die vertikale punt, en  is al vir byna sewe eeue deel van Delft se

bekende stadshorison.

Toe die Oude Kerk, ook genoem Oude Jan, in 1325 uitgebrei word, was daar ‘n kanaal in die pad waar die toring moes kom. Die kanaal is opgevul om die bouwerk te akkommodeer. Die grond het egter verskuif en die toring het stadig maar seker begin oorleun. Dis later gestabiliseer, maar die helling het gebly.

En laastens, die Nederlanders is baie lief vir drop, oftewel “licorice”.  Die gemiddelde Nederlander eet ongeveer 2kg daarvan per jaar, wat 20% uitmaak van alle soetgoedverkope.

Nederland is die grootste vervaardiger van hierdie eetgoed in die Europese Unie, en voorsien ongeveer een derde van alle drop in Europa. Hulle is vir seker lief vir hierdie swart lekkerny!