DIE STOMPKOPKEWER

Dit was in 2017 dat die stompkopkewer die eerste keer in ons land raakgesien is in die Nasionale Botaniese Tuine in KwaZulu-Natal. Hierdie onwelkome immigrant uit Suidoos-Asië het intussen versprei na agt uit die nege provinsies in die land, o.a. ook na die Tuinroete en veral George-omgewing. Al is die kewer slegs 2 mm lank, is hy besig om bome in ons land met mening te vernietig.

Die kewer val meer as 200 bome uit 28 plantfamilies aan. Baie bekend aan ons is die plataanboom, esdoring en eikeboom. Ongelukkig word inheemse bome soos die koraalboom, geelhout, olienhout, Kaapse wilg en boswilg nie oorgeslaan nie. Die volwasse wyfie dring die boom binne met swamme op haar lyf en vestig haar daar. Die swamme dien dan as voedingsbron vir die kewers en is uiteindelik verantwoordelik daarvoor dat die boom doodgaan. Wanneer ’n boom se blare onverklaarbaar verlep lyk, of ’n hele tak doodgaan, moet ons dit nie ignoreer nie. Verdere tekens is klein gaatjies in die boom se bas, donker gomkolle op die boom se bas of ’n fyn houtstof wat sigbaar is. Tot nou toe is daar nog nie ’n geregistreerde middel waarmee die kewer en swam bestry kan word nie, hoewel verskeie groot universiteite intensiewe navorsing doen om effektiewe teenmiddels te ontwikkel.

Dit is ons elkeen se verantwoordelikheid om so ’n boom waarvan ons bewus word, te rapporteer aan die betrokke munisipaliteit sodat dit op ’n verantwoordelike wyse verwyder kan word. Dit moet in digte plastiek toegedraai word voordat dit na ’n toegewysde area vervoer word en ten minste ses weke op ’n warm plek so bedek lê om te verseker dat alle kewers doodgaan. Ook vuurmaakhout moet met groot omsigtigheid hanteer word, want deur besmette hout te vervoer, word die kewer verder versprei.