“DIS ’N TEKEN”…

Een van my gunstelingskrywers, Patricia Cornwell, bring blykbaar binnekort weer ’n nuwe boek uit. Met dit in gedagte, besluit ek om sommer weer haar hele reeks van voor af te lees. Eers val daar ’n foto van my nagraadse gradeplegtigheid uit, wat my vreeslik na my pa laat verlang. Effe later lees ek Cornwell se beskrywing van die Art Deco-geboue in Miami. Terselfdertyd sien ek verskillende TV-reekse, koeke wat in Art Decokleure versier moet word, pottebakkers wat ’n ponshouer in die Art Decostyl moet maak en binnenshuise dekor wat deur Art Deco geïnspireer is. My suster sê altyd as goed ten minste drie maal herhaal word “dis ’n teken” en ek weet dadelik dit is …

Die Art Decostyl het in die jare voor die Eerste Wêreldoorlog in die grafiese kunste, plakkate en kostuum-ontwerpe in Parys, Frankryk, opgeduik. Dit was inderwaarheid ’n reaksie teen Art Nouveau(’n meer stywe, formele styl), wat vroeër in Europa oorheers het. Die Amerikaanse modetydskrifte soos VogueVanity Fair en Harper’s Bazaar, asook ander soos Rockwell Kent het vinnig hierdie nuwe styl opgetel en in Amerika gevestig. Dit was nie ’n enkele styl nie, maar ’n versameling van verskillende en soms botsende kleure (geïnspireer deur byvoorbeeld Matisse se werk) en style. Inspirasie is vanuit die hele wêreld, vanaf Europa, die Ooste en ook hier uit Afrika gekry – dit was die eerste werklike internasionale styl. Lewendige, energieke kleure soos kanariegeel, smaraggroen, pou-blou en koninklike rooi het die voorspoedige tye gesimboliseer. Metaal-afwerkings het onmiddellik “glitz, glamour, luxury, exuberance and wealth” geïmpliseer – die epitomee van die Art Decostyl.

Art Decohet mode, argitektuur (soos die Chrysler-gebou in New York), meubels, juwele, karre, treine, skepe, teaters (vandag van die bes bewaarde voorbeelde van hierdie styl) en alledaagse dinge soos die radio en stofsuier beïnvloed. Modeneigings vir klere het meer eenvoudig, modern, informeel, sportief en uitdagend in neutrale kleure soos room en beige geword. Swart-en-wit uitrustings soos die klassiekeCoco Chanel-ontwerpe, was stylvol en gesofistikeerd. Vroue het vir die eerste keer in die openbaar gerook (waarvoor byvoorbeeld ivoor-sigarethouers ontwerp is), en modelle met sigarette is in advertensies gebruik. Die moulose rokke van die 1920’s het beteken dat arms meer versierings nodig gehad het en ontwerpers soos Cartier het begin om elegante armbande in goud, silwer, platinum met koraal, smarag, saffier en ander edelgesteentes te ontwerp. Die klem was op baie spoggerige en elegante ontwerpe wat ook goedkoper materiaal soos erd, glas, horing en ivoor ingesluit het. Net so het die kort haarstyle meer prominente oorbelle tot gevolg gehad. Die polshorlosie wat voor die Eerste Wêreldoorlog uitgevind is, is nou met diamante, goud en silwer versier. Tekstiel in die vorm van kleurvolle muurpapier, meubel-oortreksels en matte was ’n belangrike deel van hierdie styl met standbeelde, geometriese ontwerpe, chevrons, sigsagpatrone en glasitems beslis ’n moet. Die Art Deco-styl was ’n baie interessante en unieke periode in die geskiedenis wat ongelukkig tydens die Groot Depressie, gedurende die 1930’s, begin afplat het.

Dis my storie, ek hoop jy kry ook binnekort ’n teken wat jou van voor af gaan inspireer en na nuwe ontdekkings lei.

Arwas, V. 1992. Art Deco. Harry N. Abrams Inc.; Bayer, P. 1999. Art Deco Architecture: Design, Decoration and Detail from the Twenties and Thirties. Thames & Hudson; Benton, C., Benton, T. & Wood, G. Art Deco: 1910–1939. Brian Catley, Deco and other Bronzes, pp. 203–209; Duncan, A. Art Deco Complete: The Definitive Guide to the Decorative Arts of the 1920s and 1930s. Abrams.