Editorial April
Dikwels moet ’n mens maar ’n stukkie humor in jou lewe bewerkstellig. Op hierdie wyse is jy verseker van ’n goeie opkikkertjie en wie kan nie daarmee doen nie? Ek het al geleer dat die mense met wie jy jouself omring beslis ’n stap in die regte rigting is en daarom verdien dié vertelling beslis ’n pluimpie.
Nie alle klein plattelandse dorpies het ’n wysgeer nie, alhoewel dit altyd ’n pluspunt is as jy seker wil maak dat die historiese juwele, atmosfeer en toekomstige ontwikkelings op sensitiewe wyse gebeur. Die dorpie in die verhaal het wel ’n wysgeer gehad. Die nuwe intrekker en entrepreneur, reg langs die wysgeer, het dit egter nie besef toe daar met rep en roer begin is om die bestaande huis in sy dubbelverdieping te omskep nie. Sy panoramiese pragstuk sou beslis stof in die oë skop van al die inwoners se wonings en moontlike kompetisie. Maar met sy houding van “Money talks” en stedelike aanstellerigheid het hy vinnig sy rieme styfgeloop.
Die wysgeer het sy selfopgelegde taak om dié meneertjie gou-gou Karoo-aarde toe te bring ernstig opgeneem. Genoeg was genoeg – al sy privaatheid was immers daarmee heen! Terwyl hy eendag voor sy eens wit Defy-yskasdeur na sy liggaamsboufoto, nou al met punte wat verbleik en effe omkrul, staan en kyk, skiet die plan hom te binne. En dit is net betyds vir die nuwe huis se inhuldigingspartytjie die Vrydagaand.
Dié aand is al wat vriend uit die stad is daar vir die skemerkelkies en happies. Dis toe dat die wysgeer uitstap in sy agterplaas, sy gunsteling-musieksnit op ’n gevaarlik hoë volume wat hoor en sien laat vergaan, en hy sy dek betree – in Adamsgewaad! Eensklaps is hy die jongman van 45 jaar gelede op die Randse Paasskou se verhoog, elke blink spier en aar sterk gedefinieer. Met sy flinke en vlugvoetige passies, is hy is weer Mnr. Liggaamsbou 1980. Kom ons spaar ons lesers maar die verbeeldingsvlug van hoe die wysgeer se lyf nou daar uitgesien het – die gaste wat vinnig hul rûe op die toneel gedraai en na die grondverdieping geskarrel het, het boekdele gespreek.
Om te sê dat die meneertjie minder selfvoldaan was na hierdie episode, is om dit sagkens te stel …
Ek is dankbaar vir wysgere in my omgewing, om nie eens te praat van vriende met goeie vertellings wat my gemoed lig en my opnuut laat skaterlag nie. Lag is na alles die beste medisyne!