Editorial Augustus

Ek onthou dat ek ’n tyd gelede geskryf het dat die een ding wat elke mens elke dag in gelyke maat ontvang, tyd is.

Dit was vir my wonderlik om te leer dat wanneer ek terugstaan in my eie skaduwee, gebeurlikhede ontvou: dat ek ontvang wat ek nooit vir myself sou kies of uitkies nie. Dat dinge soms ten goede meewerk en ervarings my lewe op onverwagte maniere verryk.

So is my lewe onlangs ryklik geseën met die woorde van ’n wyse Guru: Dit is nie tyd wat verby tik nie; dit is ons lewe. Dit het my ’n hele ruk geneem om die werklike omvang van hierdie woorde te verwerk en plek in my lewensuitkyk en omgang met myself en die rondom my daarvoor te maak. Dit is asof ek, wanneer mense na tyd verwys, dit skielik anders hoor en begin verstaan. Woorde en uitdrukkings waarmee ons so lukraak omgaan: tyd is geld, tyd sal leer, tyd vlieg, tyd wen, tyd staan nie stil nie, alles op sy tyd laat my herbedink. Dit is dan wanneer die klem na my lewe, in plaas van tyd verskuif. Sal dit nog so maklik wees om die   werksweek om te wens  sodat die naweek kan aanbreek? Dat die jaareinde tog net moet kom sodat die langverwagte Desembervakansie kan begin? Dat die winter vinnig moet verbygaan of somer tog net moet aanbreek? So kan ons seker nog lank met die lys aangaan.

Sodra ons besef dat dit nie bloot tyd is wat verbygaan nie, maar ons lewe wat nader  aan elke nuwe era beweeg – of dit nou die jare is wat by ons ouderdom tel, die besef dat ons nader aan die einde van ons lewensreis beweeg, of dat dié wat ons liefhet nie meer deel van ons daaglikse bestaan sal wees wanneer hulle die huis verlaat nie – verander iets diep binne ons. Sal hierdie besef nie ons uitkyk op en ons omgaan met, tyd vir altyd verander nie?

Vir my het daar inderdaad ’n daadwerklike klemverskuiwing plaasgevind. Dit is asof my waardering vir elke oomblik van ’n nuwe dag soveel meer betekenisvol geword het. Die entoesiasme waarmee ek elke dag tegemoetgaan en my bewuste keuse om my ruimte en lewe te deel met mense wat toegevoegde waarde daartoe bring, het my eerste keuse geword wanneer dit kom by hoe ek my kosbaarste gawe bestee.

Want dalk is dit tog nie tyd wat verbygaan nie. Dalk is dit ons lewe wat, oomblik vir oomblik, geskryf en herskryf word……. tot die tydstreep getrek word.