GROOT DANKBAARHEID VIR KLEIN VREUGDES
Terwyl ek hierdie artikel skryf, beleef ons land een van die koudste weke in jare. Sosiale media gons met insette van sneeu wat op onwaarskynlike plekke val en paaie wat glad en gevaarlik is. Waarskuwings word uitgereik vir dele van die land wat swaar deur die koue getref gaan word. Ongeag of jy ’n aanhanger van die winter is of nie, moet die langdurige koue jou onwillekeurig laat verlang na sonnige, warmer dae.
Net soos die energie van ’n sonskyndag ons verkwik, gee die belewenis van mooi en goeie tye, kleur aan ons lewens. Tye waarin ons diep gelukkig, vervuld, geliefd, geseënd en ’n verskeidenheid ander positiewe belewenisse ervaar. Dit is egter eers wanneer ons die afwesigheid van hierdie gebeure beleef, dat ons wáárlik die waarde daarvan kan besef en meet.
Ons leefwêreld kan in ’n oogwink verander. Vandag kan jy loop, môre kan jou mobiliteit in ’n oogwink weg wees; vandag het jy ’n werk of môre kan jy die vaardigheid om te kan werk, verloor; die kosbare teenwoordigheid van geliefdes kan sonder waarskuwing tot slegs herinneringe op foto’s gereduseeer word. Nie een van hierdie scenarios is aangenaam nie, maar tog is dit aan die orde van die dag. Ongelukkig is dit soms eers nadat ons iets verloor het, dat ons waarlik die waarde daarvan besef. Ons is dalk nie tevrede met die vorm of lengte van ons bene nie, maar sal hul elke keer kies bó om van ’n rolstoel afhanklik te wees; ons het moontlik nie die mees interessante of indrukwekkende werk nie, maar sal eerder met ’n lied in die hart ’n eenvoudige werk verrig, as om die vaardigheid om te kán werk, te verloor; dis makliker om moeilikheid met geliefdes uit te sorteer as om met spyt te moet saamleef wanneer dit te laat is.
Selfs die eenvoudige, klein dinge in die lewe, verdien dat ons ’n hoër premie daarop plaas, want juis hierin lê ons grootste vreugdes. Mag elkeen van ons opnuut met diepe dankbaarheid kyk na ons lewens en omstandighede in die wete dat alles wat ons is, is net genade, en alles wat ons het, is net geleen.