IS ENIGIETS OOIT BLOU?
’n Walvis kan nie ’n cliché wees nie. In ’n tyd van ruimtetye en virusse, klouter ons steeds op rotse met kameras en verkykers om die ou-ou gevoel van verbintenis te ervaar. Elke jaar is ons opnuut verwonderd, opnuut opgewonde, opnuut aan die skryf en skilder.
’n Skaarser kommoditeit is mos meer gesog, leer handelsbeginsels ons. En hierdie reusesoogdiere van die see is nie ’n daaglikse verskynsel nie, maar ’n seisoenale avontuur.
Wat maak ons van meer algemene heerlikhede? Word hulle dalk clichés? Tog nie, vermoed ek. Op sosiale media en in die klein koerante plaas mense foto’s van dolfyne wat speel, wat vinnig die branders ry of uit die water spring. Baie duimpies en hartjies wys die publiek se reaksie. Aan die buurtafel in die restourant word die dolfyne met groot vreugde aangekondig, ons aan die ander tafels kyk dadelik – inwoners en vakansiegangers ewe belangstellend.
’n Paar van ons vergader een Saterdag om ’n tafel naby die see. Soos ’n skool dolfyne kom ons bymekaar! Ons veroorloof ons die grappige woordspeling, want ons gaan kort gediggies skryf, ons woon ’n werkswinkel by. Natuurlik gesels ons oor geykte beelde, oor oorspronklikheid en ook oor nuutskeppings. Ek het in 2013 ’n gedig geskryf met die titel Soogvisse in die Outeniqua – lank voor ek geweet het ek gaan eendag hier woon. Ek het vriende hier gehad en die eerste strofe begin dus so:
Jou sms blits deur die lug
soos ’n groen gedig:
’n kalfie is gebore
in ons kobalt baai – kom
sit op die balkon by my
René Bohnen
By ons Saterdagse groepstafel takel ons egter vandag dolfyne. Impromptu verse vir die kleiner soogvisse wat ons so dikwels sien. Waarmee kan ons vorendag kom? Hier is ’n paar soogvisverse wat uit die ink gespring het – vinnige pogings, rou en spontaan, vlugtig soos dolfyne.
soepel waterdier
klief deur die golwe
dolfynakrobaat
Gerrit Theron, Hartenbos
Ons eet broodjies met slaai en ons skryf voort:
die water lewe
met elegante lywe –
die blink van dolfyne
grasieus gly hul oor deinings
en ry die golwe tot bo
in beheer van hul wêreld –
ons kyk vanuit ons eie onvermoë
Louw Kruger, Danabaai
Toe drink ons koffie en gesels en skryf nóg:
dolfyne baljaar
bloublasie-tentakels lê
Jackson Pollock-mooi
Mantori, Hartenbos
Ons besin toe sommer ook bietjie oor die verskillende betekenisse van die kleur en die woord “blou”…
boogspronge
uit die diep blou see
dolfyne is nie blou nie
Elisma van Zyl, Hartenbos
Sou jy, liewe leser, jou eie gedig oor ’n “soogvis”, die dolfyne of walvisse, kon skryf? Dalk kry jy lus! Kyk maar, hulle kan begeester deur hulle suiwer teenwoordigheid. Dalk word jou hartseerblou dag helderder, of jou blye seeblou dag word die mooiste dankbaarblou.
René Bohnen bied die werkswinkel, Kom leer gedigte slyp, as deel van die Musefees aan op 21 September 14h00-17h00 en 22 September 10h00-13h00 by Westbank Manor. Beginners en meer gevorderde digters welkom. Kontak haar by 082 566 5390 vir besprekings.
Skildery deur René Bohnen