KOM ONS VAT HANDE!
Telkens word ek verras wanneer daar insidente plaasvind wat later oorspoel in wonderlike geleenthede van inspirasie wat met ander gedeel kan word. Maar wag, laat ek by die begin begin.
Ek het onlangs die voorreg gehad om na ’n uitstalling van kwiltwerke te gaan kyk wat in die grendeltydperk geskep is. Effe geamuseerd kyk ek na die handskoene wat op die tafel, langs wat soos boeke lyk, pryk. Vriendelik verduidelik Ina Meyer, die gasvrou wat die uitstalling aangebied het, waarvoor die handskoene daar is. Noukeurig volg ek die instruksies en kies ’n paar helderpienk handskoene wat maklik oor my vingers glip. Nou begin die deurblaai in die kunsalbums in alle erns. Met elke bladsy waardeur ek blaai, met hande as die sentrale tema, ontvou daar ’n besondere stukkie kuns. Ek kyk met verwondering hoe elke individu wat dieselfde onderwerp uitbeeld dit regkry om hul persoonlikheid so uniek weer te gee met fyn draadwerk, steke, materiaal en sykeuses, krale en versierings. Hoe verder ek blaai, hoe meer verward raak ek, want êrens sal ek moet kies waarvan ek foto’s moet neem vir plasing in die koerant. Ina wys my op een van die werke: Dit is ’n uitbeelding van ’n Ouma en haar kleinkind. Ek is nie seker wat my die meeste geraak het nie, die kunswerk of die woorde daarop: “Ouma can you hold my hand so that we do not lose each other.”
Op pad huis toe met die grootheid van die see op my linkerkant besef ek opnuut hoe elke mens, groot of klein, geraak is deur COVID, soveel so dat selfs op die ouderdom van vyf die bewustheid van sterflikheid reeds ’n werklikheid geword het.
Hierdie simboliese hande bly my lank by en word die inspirasie wat oorspoel na besighede, borge, kunstenaars, jeuggroepe en individue oor die hele Tuinroete wat hande vat om momentum te gee aan die opkomende Musefees in Groot-Brakrivier.