LIG EN LAF!

Ek voel so aan my bas dat dinge besig is om die verkeerde rigting te neuk, soos my Ouma Kittie altyd gesê het. Dis Saterdagmiddag, maar geen gevleuelde woorde het nog in my skryfkamer kom nesskop nie.

Vir ’n oomblik voel ek soos ’n bruid wat almal laat sit en wag in die kerk, terwyl die reeds perfekte sleep nog een keer uitgestryk word, die ruiker so geplaas word dat almal die kleinste detail daarvan kan waardeer, die sluier se terugvou vir oulaas geoefen word sodat die hare nie in die slag bly nie. Die verskil in hierdie geval is dat dit nie ’n opgewonde groep gaste is wat my inwag nie, maar my twee mede-kollegas wat besig is om effe ongedurig met my te raak. Die uitleg van The Post moet klaarkom, almal het ’n lewe buiten diegene wat die koerant gedurende die naweek moet finaliseer. En daar word nog net op my gewag …

Ek het gou agtergekom dat my onbeholpe poging van “words don’t come easy” nie hierdie keer enige simpatie by hulle gaan wek nie. Ek is ook nie seker hoe vader tyd se uurglas my so onverhoeds betrap het nie. Ek het gereken ek is goed met tydsbestuur.

Moontlik ervaar van ons lesers ook dat tyd besig is om soos ’n wegholtrein spoed op te tel, terwyl ’n nuwe seisoen stil-stil aangekondig word in die natuur. Van die beste intensies en voorneme om nie weer vasgeval te raak in “tyd” nie, of dit te min of te veel tyd is, is weer daarmee heen. Hoe kom ’n  mens by alles uit? Ek besef ons almal kry dieselfde porsies sekondes, minute en ure. Miskien moet ons net weer ’n bietjie uitstyg bo ons situasie en perspektief kry, ons visier herinstel en net weer lig en laf raak!