EENVOUDIG “PRICELESS”
Ek het my lank gelede voorgeneem dat ek nooit my verwondering wil verloor vir die klein of eenvoudige dinge in die lewe nie. Ek wil ruimte laat dat die alledaagse vir my vreugde kan bring. ’n Klomp klein vreugdes kan tog nie anders as om in een groot “VREUGDE!” te manifesteer vir diegene wat kies om dit raak te sien nie?
In ’n artikel oor ’n bekende Suid-Afrikaanse persoonlikheid maak hy melding van ’n kosbare persoonlike item – ’n vergeelde foto van hom as baba in die arms van sy moeder. Die paradoks van die eenvoudigheid van die item, maar die onskatbare waarde daarvan vir die betrokke persoon, het my dadelik opgeval. Ek is seker daar is dosyne foto’s waar hy pryse ontvang en saam met ander bekendes afgeneem is, maar tóg het hy hierdie enkele, eenvoudige foto uitgesonder as ’n kosbare kleinood.
’n Paar maande na my pa se dood, kom ek op ’n bottel ingelegde perskes agter in die koskas af. So vanselfsprekend was die vele bottels perskes waarvan hy die skilwerk en my ma die inlêwerk gedoen het dat ons rojaal daarvan geëet, en selfs uitgedeel het. Toe ek besef dat my pa se liefdevolle handewerk nóóit weer deel van ons koskas sal uitmaak nie, was hierdie bottel se inhoud amper heilig. Elke happie was ’n herinnering aan goeie tye, ’n poging om die smaak vir ewig in my geheue vas te lê.
Toe ek ’n student was, word ek op ’n keer deur ’n afgetrede weduwee genooi vir aandete. Groot was my verbasing toe sy ’n kandelaar vol kerse aansteek op die netjies gedekte etenstafel en my meedeel dat sy al vir jare elke aand by kerslig eet, want hoekom is elke aand nie spesiaal nie? Dit het ’n blywende indruk op my gemaak. Dat iets so eenvoudig soveel flair na ’n geleentheid soos ’n aandete vir een persoon kon bring! Daardie gebruik van haar om iets wat alledaags en monotoon kan wees in ’n “event” te omskep, pas ek vandag steeds in my lewe toe wanneer ek elke liewe aand by kerslig bad (’n gebruik wat lánk voor beurtkrag begin het). “Priceless!”
Ons het almal, bewustelik of onbewustelik, alledaagse vreugdes wat ons lewe verryk, maar nie almal kies om dit raak te sien nie. Die eerste koffie van die dag voordat die ander huismense wakker word; ’n stokou liedjie waarvan jy vergeet het wat oor die radio speel en waarna jy kliphard kan luister; die asemrowende silwer skynsel waarmee ’n volmaan die donkerte omtower, om maar ’n paar opsies te noem. Klein vreugdes met ’n somtotaal van te veel vir eie gebruik, sodat jy kan sê: “My beker loop oor.” Wanneer dit by klein vreugdes kom, is te veel van ’n goeie ding, definitief, fantasties!