CAMDEBOO-BERGE EN KAROOVLAKTES
Die afgelope jaar en ’n half het groot dele van ons land die wonderlikste reën gekry en die droogte is nou iets van die verlede. Die Karoo is groener as ooit! Die voëls geniet die groenigheid net so baie soos die diere en voëlkykgeleenthede is tans ongelooflik. Die Karoo wemel van die voëls – daar is nie net groot getalle veldvoëls nie, maar ook honderde watervoëls op die damme.
Die Camdeboo Nasionale Park, wat een van Suid Afrika se oudste en mooiste dorpe, Graaff-Reinet, omring, het ’n netwerk van wildbesigtigingspaaie en ’n geteerde bergpas tot bo-op die Camdeboo-berge na die bekende uitkykpunt, die Vallei van Verlatenheid. Daar is verskeie staproetes in die ruie klowe waar die koedoes wegkruip; die begin van die Eerstefontein-staproete is ’n goeie plek om te soek na die Rooioorlangstertjie, Grysrugtinktinkie en die Kaapse Kapokvoël, asook al drie soorte Streepkoppies wat in die area voorkom. In die middel van die Park is die Nqweba-dam geleë. Hierdie dam was vir ’n dekade omtrent leeg, maar het nou uiteindelik lekker water gekry, en dit wemel al klaar van die watervoëls, insluitende Visarende, Sterretjies, Dobbertjies, Flaminke, Lepelaars, Reiers, Wildemakoue en verskillende soorte eende. Daar is ook derduisende Rooibekkweleas wat skuiling soek in die welige riete wat op die oewer van die dam groei.
Die Park se voëlskuiling, die Khwalimanzi Hide, kyk uit oor ’n watergat en oor die Nqweba-dam. Wanneer die dam 100% vol is, sal die watervlak tot voor die skuiling strek. Met nog goeie reëns in die opvangsgebied sal die watervlak binnekort die voëlskuiling bereik. Die watergat voor die skuiling lok allerlei voëls en ook wild, veral op ’n lekker warm dag. ’n Mens kan verwag om Rooibekvuurvinkies, Namakwaduifies en selfs Gewone Kwartelvinkies daar te sien. Die omringende Soetdoringbosveld is die tuiste van die Bosveldtjeriktik, die Priritbosbontrokkie, die Feevlieëvanger, die Namakwalangstertjie, die Namakwasuikerbekkie en die Geelvlekmossie. Die Hoephoep en die Bruinkopvisvanger is ook algemeen in daardie bosveld.
Die groot vlaktes in die wildbesigtigingsarea is die tuiste van Ludwigse pou, die Vaalkorhaan, die Bloukraanvoël, en as ’n mens gelukkig is ook die Dubbelbanddrawwertjie. Daar is ook verskeie “LBJs” soos die Woestynklopkloppie, die Vlaktelewerik, die Hoëveldklappertjie, die Swartpiek en die Nicholsonkoester. In die somer is daar groot hoeveelhede valkies wat die area kom besoek, waarvan die algemeenste die Oostelike Rooipootvalkies is. Dit is beslis ook die moeite werd om die bergpas te ry na die Vallei van Verlatenheid en die kort staproete te volg tot by die uitkykpunt. By die asemrowende hoë kranse kan ’n mens beide die Rooivlerkspreeu en die Bleekvlerkspreeu in hulle natuurlike habitat sien. Daar woon ook ’n Witkruisarend-broeipaar wat gereeld tussen die blitsvinnige Witpenswindswaels verbyvlieg.
Die Park bied akkommodasie by Nqweba Campsite en Lakeview Tented Camp, en dan is daar natuurlik ook verskeie opsies in die boomryke en geskiedkundige Graaff-Reinet. Alhoewel daar ’n paar Buffels in die Park rondloop, is dit nie ’n “Groot 5”-park nie – daarom is dit gewoonlik lekker stil en rustig, en ideaal vir voëlkykers om te verken.